Afrikaans 1933-1953

2 Konings 19:15-34 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

15. En Hiskía het voor die aangesig van die Here gebid en gesê: Here, God van Israel, wat op die gérubs troon, U alleen is die God van al die koninkryke van die aarde, Ú het die hemel en die aarde gemaak!

16. o Here, neig u oor en luister. Open u oë, Here, en kyk; en hoor die woorde van Sánherib, wat hy gestuur het om die lewende God te smaad!

17. Waarlik, Here, die konings van Assirië het die nasies en hulle land verwoes

18. en hulle gode in die vuur gegooi; want dit was geen gode nie, maar werk van mensehande, hout en klip; daarom kon hulle dit vernietig.

19. Verlos ons dan nou tog uit sy hand, Here onse God, dat al die koninkryke van die aarde kan weet dat U, Here, alleen God is.

20. Toe laat Jesaja, die seun van Amos, Hiskía weet: So spreek die Here, die God van Israel: Wat jy tot My gebid het insake Sánherib, die koning van Assirië, het Ek gehoor.

21. Dit is die woord wat die Here oor hom gespreek het: Die jonkvrou, die dogter van Sion, verag jou, bespot jou; agter jou skud die dogter van Jerusalem die hoof.

22. Wie het jy gesmaad en gelaster? En teen wie het jy die stem verhef en jou oë hoogmoedig opgehef? Teen die Heilige van Israel!

23. Deur jou boodskappers het jy die Here gesmaad en gesê: Met die menigte van my waens het ék die hoogte van die berge opgeklim, die uithoeke van die Líbanon, en ek het sy statige seders, die keur van sy sipresse, omgekap en deurgedring tot in sy diepste skuilhoeke, sy bos wat is soos ’n tuin.

24. Ék het gegrawe en vreemde waters gedrink, en met my voetsole laat ek al die Nylstrome van Egipte opdroog.

25. Het jy dit nie gehoor nie? Van lankal het Ek dit gereedgemaak, van die dae van die voortyd af beskik. Nou het Ek dit laat kom, dat jy versterkte stede kon verwoes tot puinhope.

26. En hulle inwoners was magteloos, het verskrik en beskaamd gestaan; hulle was soos plante van die veld en groen grassies, soos gras op die dakke en brandkoring voordat dit are skiet.

27. Maar Ek ken jou sit en jou uitgaan en jou ingaan en hoe jy teen My raas.

28. Omdat jy teen My raas en jou trotsheid opgekom het in my ore, daarom sal Ek my haak in jou neus sit en my toom tussen jou lippe en jou terugbring met die pad waarmee jy gekom het.

29. En dit sal vir jou die teken wees: Eet hierdie jaar wat vanself opslaan, en in die tweede jaar wat dan nog opkom; maar in die derde jaar — saai en oes en plant wingerde en eet die vrugte daarvan.

30. Dan sal die vrygeraaktes wat oorgebly het van die huis van Juda, weer wortel skiet ondertoe en vrugte dra boontoe.

31. Want uit Jerusalem sal ’n oorblyfsel uitgaan en vrygeraaktes van die berg Sion. Die ywer van die Here van die leërskare sal dit doen.

32. Daarom, so sê die Here aangaande die koning van Assirië: Hy sal in hierdie stad nie inkom en daar geen pyl in skiet en dit met geen skild aanval en daar geen wal teen opgooi nie.

33. Met die pad wat hy gekom het, sal hy teruggaan; maar in hierdie stad sal hy nie inkom nie, spreek die Here.

34. En Ek sal hierdie stad beskut, om dit te verlos, ter wille van My en my kneg Dawid.