Die Pad van Waarheid tot die Lewe

Yoganan 18:18-38 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

18. Die slavinne en die tempelwagte het by ’n vuur gestaan wat hulle gemaak het, want dit was koud en hulle het hulle warm gemaak. Kefa het by hulle gestaan en hom warm gemaak.

19. Die hoofpriester het vir Yeshua ondervra oor Sy studentevolgelinge en oor Sy leer.

20. Yeshua antwoord hom: “Ek het openlik met die mense gepraat. Ek het altyd in die bymekaarkomplekke geleer en in die tempel waar die Jode altyd bymekaarkom en in die geheim het Ek niks gesê nie.

21. Hoekom vra u My? Vra vir hulle wat gehoor het wat Ek vir hulle gesê het. Let op, hulle weet alles wat Ek gesê het.”

22. Toe Hy dit sê, het een van die wagte wat daar staan, Yeshua op die wang geklap en gesê: “Antwoord U die hoofpriester so?”

23. Yeshua antwoord hom: “As Ek boos gepraat het, getuig wat boos was, maar as Ek reg gepraat het, waarom slaan jy My?”

24. Hierna het Hanan Hom, steeds vasgebind, na Kayafa, die hoofpriester, gestuur.

25. Shim’on Kefa het gestaan en hom warm gemaak en hulle vra vir hom: “Is jy nie ook een van Sy studentevolgelinge nie?” Hy ontken dit toe en sê: “Ek is nie.”

26. Een van die hoofpriester se slawe, wat familie was van die man wie se oor Kefa afgekap het, vra: “Het ek jou nie in die tuin by Hom gesien nie?”

27. Weer het Kefa dit ontken en dadelik het ’n haan gekraai.

28. Toe neem hulle Yeshua vanaf Kayafa na die goewerneur se kantore. Dit was reeds skemeroggend en hulle het self nie in die kantore ingegaan nie sodat hulle nie onrein sou wees voordat hulle die Pesagmaal geëet het nie.

29. Pilatos het na hulle toe uitgekom en gevra: “Watter aanklag bring julle teen hierdie Man in?”

30. Hulle antwoord en sê vir hom: “As Hy geen boosdoener was nie, sou ons Hom nie aan u oorgelewer het nie.”

31. Pilatos sê vir hulle: “Vat julle Hom en oordeel Hom volgens julle wet.” Waarop die Jode vir hom sê: “Dit is nie wettig vir ons om iemand dood te maak nie”

32. sodat dit wat Yeshua gesê het om aan te dui watter dood Hy sou sterf vervul sou word.

33. Pilatos gaan toe weer in die goewerneur se kantore in en roep Yeshua en vra vir Hom: “Is U die Koning van die Jode?”

34. Yeshua antwoord hom: “Sê u dit uit uself, of het ander dit van My vir u gesê?”

35. Pilatos antwoord: “Is ek dan ’n Jood? U eie volk en die leierpriesters het U aan my oorgegee. Wat het U gedoen?”

36. Yeshua antwoord: “My Koninkryk is nie van hierdie wêreld nie. As My Koninkryk van hierdie wêreld was, sou My dienaars geveg het sodat Ek nie aan die Jode oorgelewer word nie, maar My Koninkryk is nie nou van hier nie.”

37. Pilatos sê toe vir Hom: “Dan is U tog ’n Koning?” Yeshua antwoord: “U sê dat Ek ’n Koning is. Hiervoor is Ek gebore en hiervoor het Ek in die wêreld gekom, om van die waarheid te getuig. Elkeen wat uit die waarheid is, luister na My stem.”

38. Pilatos vra vir Hom: “Wat is waarheid?” Toe hy dit gesê het, gaan hy weer uit na die Jode toe en sê vir hulle: “Ek vind geen skuld in Hom nie,