Die Pad van Waarheid tot die Lewe

1 Kronieke 21:14-23 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

14. יהוה het ’n pes oor Yisra’el gestuur en sewentig duisend man van Yisra’el is dood.

15. יהוה het ’n engel na Yerushalayim gestuur om dit te vernietig en terwyl hy dit vernietig, het יהוה dit gesien en dit oorweeg en die ramp afgeweer en aan die engel wat vernietig het, gesê: “Jy het baie vernietig, trek nou jou hand terug!” Die engel van יהוה het by die dorsvloer van Aravnah, die Y’vusiet, gestaan.

16. Dawid het sy oë opgeslaan en die engel van יהוה tussen die aarde en die hemel sien staan met sy ontblote swaard in sy hand oor Yerushalayim uitgestrek. Toe het Dawid en die oudstes, wat by hom was, met rouklere bedek, op hulle gesigte neergeval.

17. Dawid sê vir God: “Is dit nie ék wat beveel het om die volk te tel nie? Ja, dit is ek wat gesondig en baie verkeerd gedoen het, maar hierdie onskuldige skape, wat het hulle gedoen? יהוה, my God, laat U hand teen my en my vader se huis wees, maar laat die plaag ophou teen U volk.”

18. Toe sê die engel van יהוה vir Gad, die profeet: “Gaan sê vir Dawid dat hy moet opgaan en vir יהוה ’n altaar bou op die dorsvloer van Aravnah, die Y’vusiet.”

19. Dawid het opgegaan volgens die woord van Gad wat hy in die Naam (Karakter en Outoriteit) van יהוה gebring het.

20. Dawid het gesien dat die engel wat die mense vernietig het, sy hand terughou en nie meer vernietig het nie.

21. Toe Dawid by Aravnah kom, het Aravnah omgedraai en Dawid gesien en hy het van die dorsvloer af uitgegaan en hom voor Dawid, met sy gesig na die grond, gebuig.

22. Toe sê Dawid vir Aravnah: “Gee vir my die plek van die dorsvloer, dat ek daarop vir יהוה ’n altaar kan bou; jy sal dit aan my gee vir ’n goeie prys sodat die plaag oor die volk kan ophou.

23. Aravnah sê vir Dawid: “Vat dit vir u en laat my meester, die koning, doen wat goed is in sy oë en ek sal ook vir u die beeste as brandoffers gee, die dorssleë as hout en die koring as ’n graanoffer; ek sal alles gee wat nodig is.”