Die Pad van Waarheid tot die Lewe

1 Kronieke 19:7-19 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

7. Hulle het vir hulle twee en dertig duisend perderuiters, die koning van Ma’akhah, die koning van Aram-Naharayim met sy manskappe en die koning van Edom en al hulle leërmagte gehuur en hulle het voor Me’ideva kamp opgeslaan. Die seuns van `Ammon het bymekaargekom vanuit hulle stede om te veg.

8. Dawid het dit gehoor en Yo’av met die hele leër van magtige manne gestuur.

9. Die seuns van `Ammon het uitgekom en hulle in slagorde opgestel by die poort van die stad terwyl die konings, wat gekom het en hulle leërmagte, afsonderlik in die veld was.

10. Toe Yo’av sien dat die geveg heftig van voor sowel as van agter teen hom is, het hy sommige van die dapper manne uit Yisra’el gekies en hulle teenoor die Arameërs opgestel.

11. Die res van die manskappe het hy onder bevel van sy broer Avishai gesit en hulle het hul teenoor die kinders van Ammon opgestel.

12. Hy het vir hom gesê: “As die Arameërs vir my te sterk word, dan moet jy my te hulp kom en as die kinders van Ammon vir jou te sterk word, sal ek jou kom help.

13. Wees dapper en laat ons onveranderlik sterk wees vir ons volk en vir die stede van ons God. Laat יהוה doen wat goed is in Sy oë!”

14. Yo’av en die manskappe wat by hom was het nader gegaan vir die geveg met die Arameërs en hulle het voor hom gevlug.

15. Toe die seuns van `Ammon sien dat die Arameërs vlug, het hulle ook voor sy broer Avishai gevlug en die stad ingegaan. Toe het Yo’av teruggegaan na Yerushalayim.

16. Toe die Arameërs sien dat hulle voor Yisra’el verslaan is, het hulle boodskappers gestuur en die Arameërs uitgebring wat oorkant die Rivier was en hulle het by Heilam gekom; Shovakh, die bevelvoerder van Hadad`ezer se weermag, het voor hulle uit gegaan.

17. Dit is aan Dawid vertel en hy het die hele Yisra’el bymekaargemaak en teen hulle opgetrek. Hulle het die gevegsordes teen die Arameërs opgestel en met hulle geveg.

18. Die Arameërs het voor Yisra’el gevlug en Dawid het van die Arameërs sewe duisend strydwadrywers en veertig duisend voetsoldate doodgemaak; Shovakh, die bevelvoerder, is ook gedood.

19. Toe die diensknegte van Hadad`ezer sien dat hulle voor Yisra’el verslaan is, het hulle met Dawid vrede gesluit en hom gedien en die Arameërs wou die seuns van `Ammon nie verder help nie.