Die Boodskap

Spreuke 26:4-13 Die Boodskap (DB)

4. Dink baie mooi voordat jy ’n dom mens antwoord. Soms moet jy liewer stilbly. As jy iets sê, dink hy jy is ook dom.

5. Ander kere moet jy weer praat, want hy moenie dink sy nonsens is reg nie. Wys hom dan reguit op sy domheid.

6. Iemand wat ’n dom mens met ’n boodskap stuur, moet weet dat daar moeilikheid gaan kom.

7. Soos ’n lam man se bene nutteloos hang, so is al hierdie spreuke in die mond van ’n dwaas. Dit beteken vir hom niks nie.

8. ’n Geweer sonder koeëls beteken niks in ’n oorlog nie. So het dit ook geen sin om ’n dom mens te prys nie. Hy sal tog nie reg leef nie.

9. ’n Dronk mens kom nie agter as ’n doring in sy hand steek nie. Almal sien dit en lag vir hom. So weet ’n dwaas ook nie eens as hy een van hierdie spreuke gebruik nie. Mense hoor dit, maar steur hulle nie daaraan nie.

10. Moenie sommer enige een wat verbystap vir tuinwerk huur nie. Hy kan groot skade maak. Hy is soos ’n wag wat beheer verloor en op verbygangers skiet.

11. Soos ’n hond wat na sy eie braaksel terugkeer, so is ’n dwaas wat dom dinge oor en oor doen.

12. Ken jy ’n mens wat wys is in sy eie oë? Hy weet mos altyd beter. Wel, daar is ’n groter kans dat ’n dwaas sal verander as hy.

13. ’n Lui mens dink die vreeslikste verskonings uit waarom hy nie wil gaan werk nie. ’n Leeu sal hom opvreet as hy dit sou waag om sy voete buite te sit. Of dalk vang die leeu hom op pad werk toe.