Die Boodskap

Spreuke 23:23-35 Die Boodskap (DB)

23. Streef na nog meer wysheid. Leer nog meer lewensvaardighede. Probeer nog beter verstaan hoe om reg te lewe.

24-25. Maak jou ouers trots op jou. Maak hulle dankbaar omdat jy in die Here glo en reg wil leef.

26. Vertrou op my goeie raad vir die lewe. Jy sal sien dit help.

27. Pas op vir die los vrou. Sy kan jou lewe verwoes. ’n Ander man se vrou is soos ’n diep put waaruit niemand kom nie.

28. ’n Prostituut is altyd op loer na nog ’n slagoffer. Nes ’n rower. Elke dag loop baie mans hulle met haar vas. Sy maak van hulle egbrekers.

29. Kyk mooi na die mense om jou. Wie kerm? Wie het dronkverdriet? Wie stry met almal? Wie kla oor alles? Wie het ’n blouoog? Snyplekke aan sy lyf? En dit alles sonder rede. Wie se oë is rooi en moeg?

30. Natuurlik die dronklappe s’n. Hulle wat net nie kan ophou drink nie. Hulle wat hulle drankies meng sodat die skop nog sterker is.

31. Pas maar op vir drank. Dit lyk mooi in die glas. Lekker as dit so skuim. ’n Mens slaan sommer maklik ’n hele paar doppe weg. Maar dink ook aan die nagevolge.

32. Die babbelas. Die hoofpyn. Dit is soos ’n slang wat jou pik. Soos die gif van ’n adder wat jou doodmaak.

33. Dit voel soos ’n ontploffing in jou kop. Jy sien dinge wat nie bestaan nie. Jy praat die grootste klomp onsin.

34. Jy sweef soos iemand wat in die middel van die see op ’n bootjie ronddobber. Jy is bang soos iemand wat op die rand van ’n hoë gebou probeer slaap.

35. Drank maak jou ongevoelig. Mense sal jou skop, maar jy sal dit nie eens voel nie. Hulle sal jou slaan, maar jy sal dit nie eens weet nie. Al waaraan jy dink, is drank. Jy kan nie wag dat die drankwinkel oopmaak en jy weer kan begin drink nie.