Die Boodskap

Spreuke 21:18-31 Die Boodskap (DB)

18. Die Here straf slegte mense, maar help die gelowige. Hy vernietig die ongelowige, maar seën dié wat in Hom glo.

19. Dis beter om eenkant en alleen te bly as by mense wat graag stry en aanhou neul.

20. ’n Wyse mens het ’n fyn smaak. Hy ken die waarde van dinge en pas sy besittings mooi op. ’n Dom mens verwaarloos en vernietig alles.

21. Wie reg lewe en mense liefhet, het die lewe. Mense sal hom eer en respekteer.

22. ’n Wyse kyk deur mense se magspeletjies. Hulle groot planne en agteraf skemas vernietig hy.

23. Wie sy mond hou en sy tong beheer, bly uit die moeilikheid.

24. ’n Arrogante mens se naam stink. Iemand wat vermetel optree en niemand in ag neem nie word verwerp.

25. ’n Luiaard leef in ’n droomwêreld. Hy begeer so baie dinge, maar is nie in staat om hard te werk en geld te verdien nie.

26. ’n Lui mens dink heeldag lank net aan sy eie selfsugtige begeertes. ’n Gelowige gee baie vir ander mense.

27. Dit is verskriklik as ongelowiges iets vir die saak van die Here gee. Hulle bedoel dit tog nie.

28. ’n Vals getuie word maklik vasgetrek. Niemand wil na hom luister nie. Jy kan maar luister na ’n getuie wat die waarheid praat.

29. ’n Slegte mens is nie opreg nie. Hy doen alles vir die skyn. ’n Gelowige se liefde word aan sy manier van lewe gesien.

30. Al ons wysheid, insig en planne is niks voor die Here nie.

31. Ons kan hard werk en elke dag goed beplan, maar sonder die Here is alles tevergeefs.