Die Boodskap

Spreuke 12:12-23 Die Boodskap (DB)

12. ’n Slegte mens wil graag sy bose planne uitvoer. Hy wil mense op verskillende maniere seermaak. Geen probleme kry ’n gelowige onder nie.

13. ’n Ongelowige praat hom maklik vas. Sy eie woorde is soos ’n net wat hom vasvang. ’n Gelowige se woorde red hom uit moeilike situasies.

14. ’n Gelowige se wyse woorde is soos saad wat gesaai word. Mettertyd dra dit baie vrug in ander se lewens.

15. Dit is net ’n dom mens wat dink dat hy alleen reg is, wat dink dat hy alleen oor die waarheid beskik. ’n Wyse mens luister graag na ander se raad.

16. ’n Dom mens wys dadelik dat hy kwaad is. Hy doen niks om dit weg te steek nie. Almal kan sy woedende gesig sien. ’n Gelowige verontagsaam beledigings. Hy hoor dit sonder om hom te ontstel.

17. ’n Gelowige praat altyd die waarheid. ’n Mens kan op sy woord staatmaak. ’n Vals mens lieg net.

18. Party mense maak ander graag seer. Hulle woorde is soos ’n skerp mes wat alles stukkend sny. ’n Gelowige se woorde bemoedig ander en gee hulle moed vir die lewe.

19. Mooi woorde verloor nooit hulle krag nie. Leuentaal is waardeloos. Woorde wat nie opreg is nie, beteken niks nie.

20. Wie net altyd slegte planne teen ander beraam, is ’n bedrieër. Hy is ’n diep ongelukkige mens. Wie ander liefhet, ervaar groot vreugde.

21. ’n Gelowige sal nie swaarkry nie. ’n Slegte mens se ellendes ken geen einde nie.

22. Die Here haat ’n spul liegstories. Hy is lief vir mense wat die waarheid praat.

23. ’n Slim mens is beskeie oor al sy kennis. Dom mense blaker die min wat hulle weet, vir almal uit.