Die Boodskap

Rigters 8:1-11 Die Boodskap (DB)

1. Toe vra die Efraimiete vir Gideon: “Waarom het jy ons geïgnoreer? Hoekom het jy ons nie ook laat kom toe jy teen die Midianiete gaan veg het nie?” Hulle was baie omgekrap daaroor.

2. Maar hy het vir hulle gesê: “Wat ek gedoen het, is niks in vergelyking met wat julle reggekry het nie. Selfs die klein bietjie wat die mense van Efraim gedoen het, is baie meer werd as alles wat my familie gedoen het.

3. God het dan die twee generaals van die Midianiete, Oreb en Seëb, in julle mag oorgegee. Wat ek gedoen het, kan nooit daarmee vergelyk word nie.” Dit het hulle rustiger laat word.

4. Teen hierdie tyd het Gideon met sy 300 soldate by die Jordaanrivier aangekom. Hoewel hulle baie moeg was, het hulle steeds die vyandelike soldate agtervolg.

5. By Sukkot aangekom, het Gideon vir die mense gevra: “Gee asseblief vir my manskappe kos. Hulle is moeg, want ons is agter die Midianitiese konings, Sebag en Salmunna, aan.”

6. Die leiers van Sukkot sê toe vir hom: “Hoekom moet ons vir jou en jou manskappe kos gee? Julle het nog nie vir Sebag en Salmunna gevang nie.”

7. Daarop het Gideon geantwoord: “Nou maar goed, maar nadat die Here Sebag en Salmunna aan my uitgelewer het, sal ek terugkom en julle uitmekaar kom skeur met doringtakke en haakdorings wat ek uit die woestyn gaan saambring.”

8. Van daar af is hy verder na Pniël toe, waar hy dieselfde versoek vir kos aan die inwoners gerig het. Weereens het hy dieselfde antwoord as in Sukkot gekry.

9. Hy sê toe vir die mense van Pniël: “Na my oorwinning kom ek terug en dan kom breek ek die wagtoring van julle stad tot op die grond af.”

10. Teen dié tyd was Sebag en Salmunna al in Karkor. Saam met hulle was ’n leër van ongeveer 15 000 soldate. Dit is al soldate wat oorgebly het van die hele weermag van die mense van die ooste, want 120 000 van hulle beste soldate was reeds dood.

11. Gideon het met die karavaanroete ooswaarts gegaan tot by Nobag en Jogboha, waar hy die Midianitiese leër onverhoeds betrap het.