Die Boodskap

Rigters 13:19-25 Die Boodskap (DB)

19. Manoag het toe ’n bokkie saam met ’n bietjie graan as ’n offer op ’n klip neergesit. Toe doen die Here ’n wonder voor hulle oë.

20. Terwyl die vlam van die altaar af opvlam die lug in, het die Boodskapper van die Here in die vlamme teruggegaan hemel toe. Toe Manoag en sy vrou dit sien, het hulle plat op die grond neergeval.

21. Die Boodskapper het nie weer na hulle toe gekom nie, en Manoag het besef dat die Boodskapper ’n Engel van die Here was.

22. Toe sê Manoag vir sy vrou: “Nou sal ons sekerlik doodgaan, want ons het God gesien!”

23. Maar sy het hom geantwoord: “As die Here van plan was om ons dood te maak, sou Hy nooit ons offers aanvaar het nie. Hy sou ons ook nie hierdie wonderlike goed laat sien het en vir ons sulke goeie nuus gebring het as dit sy plan was nie.”

24. Toe haar seun gebore is, het sy hom Simson genoem. Die kind het ouer geword en die Here het hom geseën.

25. Die Gees van die Here het in hom begin werk in die omgewing van Magane-Dan, tussen Sora en Estaol.