Die Boodskap

Prediker 9:1-13 Die Boodskap (DB)

1. Ek het die lewe ondersoek en besef dat alles voorafbepaal is. God beheer wyse mense en hulle dade, asook hulle gevoelens van liefde en haat. Niemand weet wat môre of oormôre gaan gebeur nie.

2. Dieselfde lot tref almal. Dit maak die lewe sinloos. Of iemand nou goed of sleg is, en of iemand offer of nie offer nie, maak nie eintlik saak nie. ’n Goeie mens is nie in ’n beter posisie as ’n slegte mens nie en iemand wat beloftes voor God aflê, is nie beter as iemand wat dit nie doen nie.

3. Daar is ’n slegte ding in hierdie wêreld en dit is dat almal dieselfde lot deel. Mense gee hulle aan sinlose dinge oor en bedink allerlei booshede. Daarna gaan hulle dood.

4. Almal wat leef, het egter ’n skrale troos; amper soos die waardelose voordeel van ’n brandsiekhond wat nog leef teenoor ’n sterk leeu wat klaar dood is.

5. En dit is dat die lewende weet hy gaan sterf, terwyl die dooie dit nie weet nie. Die dooie kan niks meer geniet nie. Hy word heeltemal vergeet.

6. Selfs sy liefde, haat en jaloesie gaan saam met hom dood. Hy het geen deel meer aan enigiets wat op aarde gebeur nie.

7. In sulke omstandighede moet jy jou kos met vreugde geniet en jou wyn met blydskap drink. God het dit lank gelede al so bepaal.

8. Dra die regte klere om te wys hoe gelukkig en bly jy is. Laat jou klere wys dat jy die lewe tot ’n fees verklaar het.

9. Geniet die lewe met die vrou vir wie jy lief is. Geniet haar elke dag in die sinlose lewe wat jou gegun is. Sy sal jou troos wees in hierdie sinlose wêreld waarin jy jou dag en nag moet afsloof.

10. Werk hard en probeer dit geniet. Doen wat jou hand vind om te doen, want in die blyplek van die dooies waarheen jy op pad is, werk niemand nie. Daar is ook geen kennis of wysheid nie.

11. Daar is nog iets wat my baie omkrap. En dit is dat die vinnigstes nie altyd die resies wen of die sterkstes die geveg nie. Verder het daardie mens wat reg leef, nie altyd kos nie; ’n skrander mens is ook nie altyd ryk nie en slimmes word nie altyd bevorder nie. Slegte dinge tref almal.

12. Niemand weet wanneer iets slegs met hom gaan gebeur nie. Soos wanneer voëls skielik in ’n wip beland, of visse in ’n net, net so vinnig en onverwags tref ongeluk die mens.

13. Ek het in hierdie wêreld gesien dat mense nie veel van wysheid dink nie.