Die Boodskap

Openbaring 18:5-14 Die Boodskap (DB)

5. Sy het so baie verkeerde dinge gedoen. As jy dit op mekaar pak, sal die hoop so hoog soos die hemel wees. So iets sal God nooit vergeet nie! Hy onthou elke verkeerde ding wat sy gedoen het.

6. Maak met haar wat sy met julle gemaak het. Betaal haar dubbel en dwars terug vir wat sy aan julle gedoen het. As sy julle met een hou geslaan het, slaan haar dubbel so hard terug.

7. Sy het haar vreeslik belangrik gehou en ’n wilde, losbandige lewe gelei. Laat haar nou net soveel swaarkry en verdriet ly. Weet julle hoekom? Sy was die een wat vir haarself gesê het: ‘Hier sit ek, die groot heerser oor almal. Ek is nie alleen nie. Ek het baie wat agter my staan. Daar sal nooit trane van verdriet oor my wange loop nie!’

8. Ja-nee, sy het daarna gesoek! Die rampe wat haar gaan tref, gaan haar op een dag saam tref. Sy gaan baie hartseer wees, sy gaan niks hê om te eet nie en die dood gaan sy wrede greep op haar kry. Sy sal met vuur tot op die grond afgebrand word. Ja, dit alles sal gebeur, want God is die Sterke. Hy is die Here. Hy is die Een wat sê wat met die stad gaan gebeur.”

9. Die regeerders van hierdie wêreld sal bitterlik oor haar huil as hulle die wolke rook sien wat uit die brandende stad opborrel. Hulle het mos saam met die stad geleef asof God nie daar is nie. Ja, saam met haar het hulle vieslik geleef.

10. Hulle sal haar nie gaan help nie, maar net van ver af staan en kyk. Hulle is te bang hulle gaan net so swaarkry soos sy. Hulle sal net sê: “Ag, genugtig; hoe jammer! Die groot, belangrike stad; die sterk stad Babilon! Ai, kyk net; in ’n enkele oomblik het jy reguit in God se straf vasgeloop!”

11. Die besigheidsmanne van die wêreld is net so hartseer oor haar. Hulle huil net sulke lang trane. Niemand wil nou meer hulle goed koop nie. Al die goed wat mense eers so graag wou gehad het, lê nou in hope op die mark, want niemand wil dit meer hê nie.

12. Daar lê goud, silwer, edelstene, pêrels; daar is die mooiste materiale, linne en sy. Daar is die mooiste kleure, pers en rooi. Die verskillende houtgoed is net so mooi. Die hout ruik lekker en sommige artikels is uit duur hout gemaak, en ivoor ook! Goed van brons, yster en marmer staan ook oral rond. Om nie eens te praat van al die duur kruie nie. Oral lê daar

13. kaneel, speserye en verskillende kruie wat lekker ruik, soos mirre en wierook. Aan eetgoed is daar ook nie ’n tekort nie. Duur kos, olie, wyn, meel en koring is vrylik beskikbaar. Selfs diere soos beeste, skape en perde kan ’n mens daar kry en daar is tot perdekarre! Om nie eens te noem dat ’n mens selfs mense daar kan koop nie: ja, daar is selfs slawe beskikbaar.

14. “Alles waarvoor julle geleef het, is daarmee heen. Dit wat julle so graag wou hê, is weg. Al die spoggerige luukshede het soos dou voor die oggendson verdwyn; dit is vir altyd weg!”