Die Boodskap

Openbaring 17:7-11 Die Boodskap (DB)

7. Die engel sê toe vir my: “Hoekom is jy so verbaas? Ek sal die geheim vertel van die vrou en die dier met die sewe koppe en tien horings wat haar dra.

8. Dit was in die verlede belangrik, maar nou is dit weg. In die toekoms sal dit weer uit die onderaardse diepte uitkom, net om totaal vernietig te word. Mense sal vreeslik beïndruk wees as hulle die dier sien, omdat hy in die verlede daar was, toe verdwyn het, maar skielik weer in die toekoms te voorskyn sal kom. Maar dit is nie waar van alle mense nie. Dit is net waar van mense wie se naam nie van die begin af in die boek van die ewige lewe geskrywe is nie.

9. “Om al hierdie dinge te verstaan moet ’n mens mooi dink. Kophou is die antwoord. Die sewe koppe van die dier stel die sewe heuwels voor waarop die vrou sit, met ander woorde, waarop die stad gebou is. Daar was ook sewe regeerders.

10. Vyf van hulle was al klaar daar. Die sesde een regeer nou. Die sewende een is nog op pad. Hy sal nie lank regeer nie.

11. Dan is daar die dier wat in die verlede daar was, maar nou van die toneel verdwyn het. Hy is deel van sy sewe voorgangers, maar is tegelyk die agtste regeerder. Hy is op pad om sy moses teë te kom. Hy gaan vernietig word.