Die Boodskap

Levitikus 23:8-21 Die Boodskap (DB)

8. Op elkeen van die volgende sewe dae moet julle vir die Here ’n offer bring wat verbrand word. Op die sewende dag moet julle weer ophou met al julle werk en weer vir die Here bymekaarkom.”

9. Die Here het verder deur Moses

10. vir die Israeliete gesê: “Wanneer julle eendag in die land woon wat Ek aan julle gaan gee en julle begin daar oeste insamel, moet julle die eerste gerf graan wat julle afsny na my tent bring.

11. Die dienaar by die tent moet dit op die eerste dag na die sabbatdag vir die Here gaan gee sodat die Here julle goedgesind kan wees.

12. Julle moet tegelyk daarmee saam ook vir die Here ’n gesonde lam van ’n jaar oud bring om te offer,

13. ’n offer uit die graan van drie kilogram meel wat met olie gemeng is - waarvan die Here so baie hou - en ’n offer van een liter wyn.

14. Dit moet ’n vaste gebruik by julle en julle nageslag wees dat julle niks van die oes sal eet - of dit gebak, gebraai of rou is - voordat julle eers julle offer vir God gebring het nie.”

15. “Van die dag af nadat julle die eerste gerf graan kom offer het, moet julle ’n volle sewe weke aftel

16. tot op die 50ste dag. Dit is die eerste dag na die sewende sabbat. Op daardie dag moet julle weer ’n offer vir die Here bring uit die graan wat so pas geoes is.

17. Van oral waar julle woon, moet julle brood bring om vir die Here te offer. Dit moet van drie kilogram meel gebak wees. Hierdie keer moet julle dit bak met suurdeeg in. Dit is ’n offer vir die Here van die eerste opbrengs van die oes.

18. Bo en behalwe die brood moet julle ’n offer vir die Here bring van sewe jaaroud lammers sonder foute, ’n jong bul en twee ramme. Saam met die offers uit die graan en die offer van wyn, is dit ’n offer wat vir die Here verbrand word waarvan Hy besonder baie hou.

19. Julle moet ook ’n bokram vir die sonde offer en twee jaaroud lammers om saam met die Here te eet.

20. Die dienaar sal die lammers saam met die brood uit die eerste opbrengs van die oes aan die Here opdra. Dit word aan die Here gewy. Sy dienaars mag ook daarvan eet.

21. Presies op daardie 50ste dag moet julle vir die Here bymekaarkom. Julle moet ophou met al julle werk. Dit is ’n vaste afspraak elke jaar vir julle en julle nageslag, waar julle ook al woon.