Die Boodskap

Levitikus 22:22-33 Die Boodskap (DB)

22. Julle mag nie vir die Here diere bring wat blind, beseer of vermink is, wat oop sere het, wat brandsiek is of sere op sy vel het nie. Julle mag nie sulke diere vir die Here bring nie.

23. As dit sommer ’n vrywillige offer is, mag julle wel ’n bees of ’n skaap bring wat misvormd is of onderontwikkeld is. Julle mag egter nie met sulke diere julle beloftes nakom nie.

24. “Julle mag nie ’n gekastreerde dier, of dit ’n os of ’n hamel is, vir die Here offer nie. Dit mag nie in julle land gebeur nie.

25. Julle mag ook nie gekastreerde diere van uitlanders koop en vir julle God offer nie. Hulle is vermink. Die Here sal hulle nie van jou aanvaar nie.”

26. Die Here het verder ook nog vir Moses gesê:

27. “’n Kalf of skaaplam of boklam wat gebore word, moet eers sewe dae lank by sy ma bly. Van die agtste dag af mag dit by haar weggevat word en as ’n offer vir die Here gebruik word.

28. Julle mag egter nie ’n lam en sy ma op dieselfde dag offer nie.

29. Wanneer julle ’n offer vir die Here bring om vir Hom dankie te sê, moet julle dit so offer dat Hy dit sal aanneem.

30. Julle moet julle deel van die offer nog op dieselfde dag opeet. Julle mag niks daarvan laat oorbly tot die volgende dag nie. Ek is die Here.

31. Doen soos Ek vir julle sê en leef soos Ek van julle vra. Ek is die Here.

32. Moenie my hoë Naam belaster nie. Die Israeliete moet onthou dat Ek die enigste God is. Ek is die Here. Ek het julle vir My afgesonder.

33. Ek het julle uit Egipte gebring om julle God te wees. Ek is die Here.”