Die Boodskap

Kolossense 1:5-23 Die Boodskap (DB)

5. Dit doen julle omdat julle vir seker weet dat God self alles waarborg wat Hy vir julle belowe het en vir julle reg hou. Vir hierdie goeie nuus staan God self in.

6. Julle is nie die enigstes wat die goeie nuus gehoor het nie. Oor die hele wêreld het die wonderlike nuus al by mense uitgekom en steeds versprei dit soos ’n veldbrand. Net mooi oral kom ’n mens die vrugte daarvan teë. Julle het self mos ervaring daarvan. Van die dag af dat dit tot julle deurgedring het hoe goed God vir julle is sonder dat julle dit regtig verdien, weet julle dat die ware God aan die werk is.

7. By Epafras het julle alles geleer. Hy is regtig ’n staatmaker en ek hou baie van hom. Hy werk hard saam met my vir die Here. Hy is iemand op wie Christus regtig peil kan trek. Julle het natuurlik ook die vrugte van sy goeie werk gepluk.

8. Dit is juis by hom dat ons gehoor het hoe lief julle mekaar het. God se Gees werk mos in julle.

9. Vandat ons al hierdie dinge oor julle gehoor het, bid ons aanmekaar vir julle. Ons vra dat God vir julle al die kennis sal gee wat julle nodig het om reg te leef. Mag die Heilige Gees julle duidelik wys hoe julle moet leef.

10. Dan behoort julle mos nie te twyfel oor wat presies God van julle wil hê nie. En as julle weet wat om te doen en dit doen, sal die Here trots wees op julle en tevrede voel oor hoe julle leef. Mag alles wat julle doen vir julle goeie vrugte dra en julle meer van God se plan vir julle lewe laat verstaan.

11. God is die Een wat oor Goddelike mag beskik. Mag sy krag júlle krag word sodat julle glad nie ongeduldig word en begin moed verloor nie. Nee, staan vas en hou moed!

12. Ek bid ook dat julle met ’n blye glimlag aan die Vader alle eer sal gee en Hom sal grootmaak. Sê vir Hom dankie. Hy het alles gedoen wat nodig is sodat julle die reg het om vir altyd te wees waar Hy, die groot Koning, heers. Hy sal julle beskerm. Daar waar God se wonderlike lig sonder ophou skyn, sal julle saam met al sy ander kinders bly. Julle vra hoe dit moontlik is.

13. Wel, ons was eers in die donker mag van God se vyande vasgevang. God het ons egter uit hulle mag geruk. Nou staan ons onder die mag van sy Seun. Dit is die Seun wat Hy liefhet.

14. Hierdie Seun raak ook namens ons ontslae van die skuld wat ons deur ons sondes op ons gelaai het. Deur sy toedoen word ons sondes vergewe.

15. Ons kan God nie met ons oë sien nie. Sy Seun is egter die beeld van God. Deur na Hom te kyk sien ons wie en hoe God is. Niks in die skepping kan met Hom vergelyk word nie. Hoekom nie?

16. Net mooi alles, of dit nou in die hemel of op die aarde is, is deur Hom gemaak. Of jy dit kan sien of nie, of jy dink dit is sterk of nie, of jy daarvoor wil neerval en dit aanbid of nie, maak nie saak nie; alles is deur Hom gemaak. Alles wat gemaak is, moet daarna streef om Hom gelukkig te maak.

17. Voor enigiets anders gemaak is, was Hy mos al daar.

18. Boonop is Hy ook die Een wat sorg dat die heelal nie in duie stort nie.Die kerk kan met ’n liggaam vergelyk word. Die belangrikste deel, die kop van die liggaam, is God se Seun. By Hom het alles begin en Hy neem in alles die leiding. Hy het eerste uit die dood opgestaan.

19. God het mos self besluit om volledig by sy Seun te wees.

20. Hy het daarvoor gesorg dat alles in die skepping weer in die regte verhouding met Hom gestel word. Hy is mos die doel waarom alles geskep is. Dit het Hy gedoen deur die onderlinge verhoudings in die skepping weer reg te stel, of dit nou op die aarde of in die hemel is. Dit het nie sommerso gebeur nie. Dit was duur. Dit het Hom sy bloed gekos wat aan die kruis geloop het.

21. Julle onthou mos hoe julle voorheen op die verkeerde pad was. Julle was nie God se vriende nie; inteendeel, julle was sy vyande. Julle slegte gesindheid het veroorsaak dat julle net so sleg opgetree het.

22. Maar dinge het nou verander. Die Seun het vrede kom maak tussen God en julle. Juis daarom het hulle Hom liggaamlik doodgemaak. Sy doel was egter om so van julle iets besonders te maak. Hy wil dit so bewerk dat julle God heeltemal tevrede sal stel sodat daar niks in julle is waarvan God nie hou nie.

23. Julle moet egter net vas bly glo. Staan vas soos ’n huis op stewige fondamente, onbeweeglik soos ’n paal wat diep ingekap is. Moenie ’n duim afwyk van die evangelie waarvan julle so oortuig geraak het nie. Dit is die evangelie wat oor die hele wêreld aan mense verkondig word. Met al my tyd en energie werk ek, Paulus, vir hierdie evangelie.