Die Boodskap

Josua 9:3-11 Die Boodskap (DB)

3. Die inwoners van Gibeon het gehoor wat Josua met Jerigo en Ai gedoen het

4. en hulle het besluit om hom om die bos te lei. Hulle het vir hulle padkos ingepak en ou, stukkende saalsakke op hulle donkies gesit en ook gehawende en gelapte wynsakke uitgesoek.

5. Hulle het hulle oudste klere en stukkende skoene aangetrek. Die brood wat hulle as padkos saamgevat het, was al kliphard en uitgedroog.

6. So is hulle toe daar weg Gilgal toe, waar die Israeliete se kamp was. Daar aangekom, sê hulle vir Josua: “Ons kom uit ’n ver land om julle te vra om met ons ’n ooreenkoms aan te gaan.”

7. Die Israeliete het vir die Gibeoniete, wat Hewiete van afkoms was, gesê: “Ons is nie seker of ons ’n ooreenkoms met julle moet sluit nie. Wie sê julle bly nie sommer hier naby ons nie?”

8. Hierdie Gibeoniete sê toe vir Josua: “Ons sal julle onderdane wees.”“Wie is julle en waar kom julle vandaan?” wou hy dadelik weet.

9. Toe vertel hulle hom hierdie storie: “Ons kom van ’n baie ver land af na julle toe. Ons het gehoor van die groot dinge wat die Here julle God gedoen het. Ons weet wat in Egipte gebeur het

10. en ook wat Hy met die twee Amoritiese konings oos van die Jordaan gedoen het: koning Sihon van Gesbon en koning Og van Basan, wat in Astarot gebly het.

11. Daarom het ons leiers en ons mense vir ons gesê: ‘Vat vir julle padkos vir ’n lang reis en gaan praat met hierdie mense. Sê vir hulle dat ons bereid is om hulle dienaars te wees. Vra hulle om ’n ooreenkoms met julle te sluit om in vrede saam te leef.’