Die Boodskap

Josua 22:16-32 Die Boodskap (DB)

16. “Ons praat namens die hele gemeente van die Here. Hoekom was julle ontrou aan die God van Israel? Toe julle die altaar gebou het, het julle die rug vir die Here gedraai en teen Hom in opstand gekom!

17. Was ons sonde by Peor nie erg genoeg nie? Daar het die Here sy eie volk met ’n epidemie getref en ons dra tot vandag toe nog die gevolge daarvan.

18. En wat doen julle nou? Julle draai sowaar die rug vir die Here! Besef julle nie dat as julle vandag teen die Here in opstand kom Hy môre vir ons almal wat sy volk is, kwaad sal wees nie?

19. As julle gebied nie geskik is om in te aanbid nie, kom dan oor na ons kant toe waar die Here se tent staan. Dit is die teken van sy teenwoordigheid by ons. Op daardie plek aanbid ons Hom. En as julle grond nodig het om op te kom bly, is ons bereid om met julle te deel. Moet asseblief net nie in opstand kom teen die Here en ons dan ook daarby betrek deur ’n ander altaar te bou nie. Julle weet mos daar kan net een ware altaar vir die Here ons God wees.

20. Onthou julle wat gebeur het toe Akan die seun van Serag hom vergryp het aan dit wat aan die Here gewy was? Die hele volk het daaronder gely. Dit was nie net hy wat gesterf het oor sy sonde nie!”

21. Hierop het die stamme van Ruben, Gad en die halwe Manassestam vir die leiers van die volk gesê:

22. “Die Here alleen is God! Die Here alleen is God! Die Here weet waarom ons dit gedoen het en ons wil hê julle moet ook weet. As ons dan ontrou was en teen die Here in opstand gekom het, moet julle ons dadelik doodmaak.

23. As ons teen die Here in opstand gekom het en ons eie altaar gebou het waarop ons brandoffers of graanoffers of vredesoffers wou bring, mag die Here dan self van ons rekenskap eis.

24. Maar nee, dit was uit besorgdheid dat ons dit gedoen het. Ons was bang dat julle kinders dalk in die toekoms vir ons s’n sou sê: ‘Wie gee julle die reg om die Here die God van Israel te aanbid?

25. Die Here self het tog die Jordaan as ’n duidelike grens tussen ons en julle gestel. Julle het niks met die Here te doen nie.’ Dit kon dalk tot gevolg hê dat ons kinders nie meer die Here wou aanbid nie.

26. Daarom het ons besluit om die altaar te bou, nie vir brandoffers of ander diereoffers nie,

27. maar as ’n getuienis. Dit moet ons en julle kinders daaraan herinner dat ons inderdaad ook die Here dien met ons brandoffers en slagoffers en vredesoffers. Dan kan julle kinders nie dalk vir ons s’n sê: ‘Wat het julle met die Here te doen?’ nie.

28. Dit was die hele idee daaragter. Want dan sou ons kinders vir julle s’n kon sê: ‘Kyk, hier is ’n afbeelding van die Here se altaar wat ons ouers gemaak het. Dit is nie bedoel vir brandoffers of slagoffers nie, maar as ’n bewys dat ons dieselfde Here dien.’

29. Dit was glad nie ons idee om teen die Here in opstand te kom of die rug vir Hom te draai deur ons eie altaar vir brandoffers en spysoffers en slagoffers te bou nie. Ons weet daar is net een altaar wat hiervoor gebruik kan word, en dit is die een by die tabernakel, die altaar van die Here ons God!”

30. Toe die priester Pinehas en die ander leiers van die volk wat saam met hom daar was, dié woorde hoor, het dit hulle gerusgestel.

31. Toe sê Pinehas die seun van die priester Eleasar vir die stamme van Ruben, Gad en die halwe Manassestam: “Nou weet ons die Here is by ons. Julle was nie ontrou aan die Here nie en het nie teen Hom in opstand gekom soos ons gedink het nie. Inteendeel, julle het juis gekeer dat die Here die Israeliete straf.”

32. Hiermee is Pinehas die seun van die priester Eleasar en die ander leiers van die volk uit Gilead weg, terug Kanaän toe om aan die Israeliete te gaan rapporteer.