Die Boodskap

Jeremia 41:9-13 Die Boodskap (DB)

9. Koning Asa het Mispa destyds versterk om homself teen koning Baesa van Israel te beskerm. Hy het toe ook ’n groot put gegrawe om water in op te vang. Dit was in hierdie put wat Ismael die lyke gegooi het.

10. Ismael het ook al die ander mense gevang wat in Mispa was. Onder hierdie mense was Sedekia se dogters. Nebusaradan het hulle by Gedalja in Mispa gelos sodat hy na hulle kon kyk en kon versorg. Ismael het hulle saam met hom gevat en in die rigting van die Ammoniete begin trek.

11. Maar Joganan en die groep soldate wat by hom was, het gehoor van die gruwels wat Ismael gedoen het.

12. Hulle het toe al die mans saam met hulle gevat en teen Ismael gaan baklei. Hulle het by die groot dam naby Gibeon op hom afgekom.

13. Toe die mense wat deur Ismael gevang is, vir Joganan en sy manskappe sien, het hulle geskree omdat hulle bly was.