Die Boodskap

Jeremia 41:1-9 Die Boodskap (DB)

1. In die middel van die herfs daardie jaar het Ismael en tien van sy mense by Gedalja in Mispa aangekom. Ismael was die seun van Netanja en die kleinseun van Elisama. Hy het uit die koninklike familie gekom en was een van die koning se offisiere. Gedalja het hulle vir ete genooi. Terwyl hulle nog so by die tafel sit,

2. het Ismael en sy tien manskappe opgespring en Gedalja met ’n swaard doodgesteek.

3. Hy het ook al die Jode doodgemaak wat daar by Gedalja was. Ismael het ook die Babiloniese soldate vermoor wat by Gedalja in Mispa was.

4. Die volgende dag, nog voordat enigiemand iets van Gedalja se moord gehoor het,

5. het 80 mans uit Sigem, Silo en Samaria in die Mispa-omgewing aangekom. Elkeen se baard was afgeskeer en hulle klere in repies geskeur. Hulle het ook snye aan hulle lywe gehad. Dit was duidelik dat hulle besig was om te rou. Hulle was op pad na die Here se tempel toe. Hulle wou daar vir Hom graanoffers bring en ook wierook brand.

6. Ismael het uit Mispa uitgegaan om hulle te ontmoet. Hy was droewig aan die huil. Toe hy by hulle kom, het hy gesê: “Kom eers na Gedalja toe voordat julle verder gaan.”

7. Toe hulle in die stad aankom, het Ismael en die manne saam met hom 70 van die 80 mense doodgemaak. Hy het die lyke in ’n put gegooi.

8. Die tien wat oorgebly het, het Ismael gesmeek om hulle nie dood te maak nie. Hulle sou vir hom die koring, gars, olie en heuning gee wat hulle in die veld opgegaar het. Hy het hulle toe nie doodgemaak nie.

9. Koning Asa het Mispa destyds versterk om homself teen koning Baesa van Israel te beskerm. Hy het toe ook ’n groot put gegrawe om water in op te vang. Dit was in hierdie put wat Ismael die lyke gegooi het.