Die Boodskap

Jeremia 36:18-31 Die Boodskap (DB)

18. Baruk het hulle geantwoord: “Jeremia het vir my presies gesê wat om te skryf, woord vir woord. Ek het dit in ink in hierdie boek neergeskryf.”

19. Die amptenare se raad aan Baruk was: “Jy en Jeremia moet vir julle eie beswil liewer iewers gaan wegkruip. Niemand moet weet waar julle is nie!”

20. Die amptenare het die boek in die kantoor van Elisama die sekretaris gebêre en toe na die paleis toe gegaan. Hulle het vir die koning alles oorvertel wat hulle gehoor het.

21. Koning Jojakim het vir Jehudi gestuur om die boek te gaan haal. Hy het dit in Elisama se kantoor gaan haal en vir die koning voorgelees terwyl sy amptenare bygestaan het.

22. Dit was in die winter. Die koning het in ’n warm deel van die paleis voor die vuur gesit.

23. Baruk het die boek in kolomme geskryf. Elke keer as Jehudi drie of vier van hierdie kolomme voorgelees het, het die koning sy mes gebruik om dit uit die boek te sny. Hy het deel vir deel van die boek uitgesny en in die vuur gegooi. So het hy aangehou totdat hy alles verbrand het.

24. Die koning en sy beamptes het na alles geluister wat geskryf was, maar dit het hulle nie bang gemaak nie. Hulle het ook nie hulle klere geskeur om te wys dat hulle jammer was oor alles wat hulle gehoor het hulle verkeerd doen nie.

25. Elnatan, Delaja en Gemarja het die koning gesmeek om nie die boek te verbrand nie, maar hy het hom nie aan hulle gesteur nie.

26. Daarna het die koning vir sy seun Jeragmeël, Seraja en ook vir Selemja opdrag gegee om Baruk en Jeremia te gaan vang. Seraja was ’n seun van Asriël en Selemja ’n seun van Abdeël. Maar die Here het Baruk en Jeremia weggesteek.

27. Die Here het weer met Jeremia gepraat. Dit het gebeur na die episode toe die koning die boek stuk vir stuk verbrand het. Hy het gesê:

28. “Kry vir jou ’n ander boek en skryf alles weer neer wat in die boek gestaan het wat Jojakim verbrand het.” Die boek was weer in ’n vorm dat dit opgerol kon word.

29. “Sê vir koning Jojakim die Here sê: Jy het die boek verbrand omdat daarin gestaan het dat die koning van Babel hierdie land gaan verwoes. Geen mens of dier sou oorleef nie.”

30. Die Here sê oor Jojakim, die koning van Juda, die volgende: “Hy sal nie opvolgers uit sy familie hê om die koningskap van Dawid te laat aangaan nie. Sy lyk sal buite weggegooi word. Hy sal nie begrawe word nie. Hy sal so oop lê in die hitte van die dag en in die koue van die nag.

31. Ek sal hom straf. Maar nie vir hom alleen nie, ook sy familie en sy amptenare. Ek sal dat al die rampe wat Ek beloof het die mense van Juda en Jerusalem tref. Hulle wou mos nie na my waarskuwings luister nie!”