Die Boodskap

Jeremia 36:14-20 Die Boodskap (DB)

14. het die amptenare vir Jehudi gestuur om Baruk te gaan vra om dit ook vir hulle te kom voorlees. Jehudi was ’n seun van Netanja en kleinseun van Selemja, en ’n agterkleinseun van Kusi. Baruk het die boek gevat en na die paleis toe gegaan waar hulle was.

15. Die amptenare het Baruk genooi om te sit en uit die boek vir hulle voor te lees. Hy het gemaak soos hulle gevra het.

16. Toe hulle alles gehoor het wat Baruk voorgelees het, was hulle baie bang. Hulle het vir Baruk gesê: “Ons moet vir die koning alles vertel wat ons gehoor het.”

17. Maar eers wou hulle by Baruk hoor: “Sê vir ons, waar kry jy alles wat jy hier neergeskryf het? Het Jeremia vir jou gesê wat om te skryf?”

18. Baruk het hulle geantwoord: “Jeremia het vir my presies gesê wat om te skryf, woord vir woord. Ek het dit in ink in hierdie boek neergeskryf.”

19. Die amptenare se raad aan Baruk was: “Jy en Jeremia moet vir julle eie beswil liewer iewers gaan wegkruip. Niemand moet weet waar julle is nie!”

20. Die amptenare het die boek in die kantoor van Elisama die sekretaris gebêre en toe na die paleis toe gegaan. Hulle het vir die koning alles oorvertel wat hulle gehoor het.