Die Boodskap

Jeremia 25:17-28 Die Boodskap (DB)

17. Ek het die beker by die Here gevat en na al die nasies toe gegaan na wie die Here my gestuur het. Ek het hulle toe uit die beker laat drink.

18. Die mense van Jerusalem en die ander dorpe van Juda het uit die beker gedrink. Verder ook hulle konings en die leiers van Jerusalem en Juda. Hulle moes uit die beker drink sodat hulle land verwoes kon word en leeg sou staan. Dit is ’n vreeslike gesig om te sien. So is dit nog steeds vandag die geval.

19. Ek het ook Egipte toe gegaan. Daarna het ek na ander volke toe gegaan wat ook uit die beker moes drink: die farao van Egipte, sy amptenare en sy leiers, ook al sy mense

20. en die mense wat nie van Egipte af kom nie, maar tussen hulle bly. Dan ook die konings van die gebied van Us, die konings van die Filistynse stede Askelon, Gasa, Ekron en wat van Asdod oorgebly het.

21. Hierby kom ook nog Edom, Moab en Ammon,

22. en die konings van Tirus en Sidon en die lande om die Middellandse See.

23. Nog nasies wat uit die beker moes drink, is Dedan, Tema, Bus en ander veraf plekke.

24. Dan ook nog die konings van Arabië, die konings van die mense wat in die woestyn rondtrek en die konings van Simri, Elam en Medië.

25. Die konings van die lande in die noordelike gebiede, dié wat naby en dié wat ver was, het almal uit die beker gedrink.

26. Al die konings van die wêreld moes daaruit drink. En laaste van almal moet die koning van Babel uit hierdie beker van die Here se woede drink.

27. Toe het die Here vir my gesê: “Ek is die Here wat sterker as alles en almal is, die God van Israel. Sê vir hulle: ‘Drink totdat julle dronk is en opgooi. Drink totdat julle val en nie weer kan opstaan nie. Dit is wat met julle sal gebeur in die oorlog waarin Ek julle gaan laat beland.’

28. En as hulle vasskop en nie uit die beker wil drink nie, sê vir hulle: ‘Die Here sê, julle het nie ’n keuse nie, drink!’