Die Boodskap

Jeremia 23:21-26 Die Boodskap (DB)

21. Die Here sê: “Ek het nie hierdie profete gestuur nie en tog gaan hulle aan asof dit so is. Ek het nie vir hulle enige boodskappe gegee nie en tog maak hulle of Ek het.

22. As hulle werklik in my binnekring was en geluister het na wat Ek sê, sou hulle my boodskap gekry het om oor te dra. Dan sou my volk opgehou het om al die verkeerde dinge te doen waarmee hulle besig is.

23. Dink julle miskien Ek is net in een plek te kry? Kan Ek nie ook raaksien wat ver van hier af gebeur nie?

24. Dink enigiemand hulle kan vir My wegkruip en Ek sal hulle nie sien nie? Is Ek nie oral in die hemel en op die aarde nie?” vra die Here.

25. “Ek het gehoor wat hierdie profete sê: ‘Kom ek vertel vir julle die droom wat die Here vir my in die nag gegee het.’ Dan vertel hulle leuens en is hulle so vermetel om te sê Ek het vir hulle die boodskap gegee.

26. Hoe lank sal daar nog van hierdie profete wees wat mense bedrieg? Die goed wat hulle kwytraak, het hulle sommer self uitgedink.