Die Boodskap

Jeremia 18:19-23 Die Boodskap (DB)

19. Jeremia bid toe: “Here, help my! Luister wat die mense teen my beplan.

20. Is dit regverdig dat goed met sleg terugbetaal word? Hulle het ’n gat vir my gegrawe om in te val. Maar onthou U hoe ek vir hulle gebid het? Ek het U gesmeek om hulle nie in u woede te straf nie. Dit is nou stank vir dank!

21. Daarom, Here, laat hulle kinders honger ly! Laat hulle in oorloë doodgaan! Laat hulle vroue weduwees word sonder dat hulle kinders het! Laat die mans in ’n epidemie sterf! Laat die jongmans doodgaan terwyl hulle op die slagveld besig is om te veg!

22. Laat hulle angskrete gehoor word as aanvallers skielik op hulle toesak terwyl hulle in hulle huise is. Laat hierdie slegte dinge met hulle gebeur omdat hulle vir my ’n gat gegrawe het om in te val. Hulle het vangstrikke vir my gestel om in te trap.

23. Here, U weet van al die planne wat hulle gemaak het om my dood te maak. Ek vra dat U hulle onregverdige optrede nie sal vergewe nie. Moet ook nie die verkeerde dinge wat hulle gedoen het, uitvee asof dit nooit bestaan het nie. Laat hulle voor u oë ondergaan. Terwyl U nog woedend vir hulle is, straf hulle!”