Die Boodskap

Jeremia 13:17-24 Die Boodskap (DB)

17. Maar as julle aanhou ongehoorsaam bly, sal ek eenkant gaan staan en huil oor julle so verwaand is. Ek sal bitterlik oor julle huil. Julle is nou wel die Here se volk, maar julle sal uit julle eie land na ander lande weggevat word.

18. Die Here het vir my gesê: “Sê vir die koning en die koningin-moeder: Klim van julle troon af, want julle sal nie langer die kroon dra wat wys dat julle regeer nie.

19. Die mense van die stede in die Negev is reeds deur die vyand vasgekeer. Niemand sal hulle meer kan help ontsnap nie. Die mense van Juda sal as gevangenes weggevat word uit hulle land na ander lande toe.

20. Jerusalem, maak julle oë oop, dan sal julle die vyand uit die noorde sien aankom. Wat het van Juda se inwoners geword? Jy was tog so trots op hulle. Was jy nie veronderstel om mooi na hulle te kyk nie?

21. Hoe sal julle voel as Ek die mense wat vroeër julle vriende en bondgenote was, nou toelaat om julle te oorheers? Julle sal van pyn krul soos ’n vrou wat geboorte gee!

22. Julle wonder seker hoekom al hierdie dinge met julle gebeur. Die antwoord is: Julle word soos ’n vrou deur die vyand misbruik en verneder omdat julle so baie dinge verkeerd doen.

23. “’n Mens wat ’n donker vel het, kan dit nie verander nie. Net so kan ’n luiperd ook nie sy kolle verander nie. Dink julle miskien dat julle skielik goeie dinge kan begin doen nadat julle so lank reeds daaraan gewoond was om verkeerde goed te doen?”

24. Die Here sê: “Ek sal julle oraloor waai, net soos die wind wat uit die woestyn waai die kaf uit die koring oral versprei.