Die Boodskap

Jeremia 13:1-10 Die Boodskap (DB)

1. Die Here het vir my gesê: “Gaan koop vir jou ’n stuk linne en bind dit om jou heupe vas. Jy moenie die lap was nie.”

2. Ek het toe die lap gaan koop soos die Here vir my gesê het, en dit om my heupe vasgebind.

3. Toe het die Here weer met my gepraat en gesê:

4. “Vat nou die linnelap wat jy dra en gaan na die Eufraat toe. Steek die lap daar in ’n skeur in een van die rotse weg.”

5. Ek het toe na die Eufraat toe gegaan en die lap weggesteek presies soos die Here gesê het ek moes doen.

6. Na ’n lang tyd het die Here vir my gesê: “Gaan terug na die Eufraat toe en gaan haal die lap uit die opening in die rots waar Ek gesê het jy dit moet wegsteek.”

7. Ek het toe teruggegaan na die Eufraat. Toe ek daar kom, het ek die lap uit die skeur in die rots gehaal waar ek dit weggesteek het. Maar die lap het al begin stukkend gaan. ’n Mens sou dit nie meer kon gebruik nie.

8. Toe het die Here vir my begin verduidelik wat dit alles beteken.

9. Hy het gesê: “Hierdie stuk lap het uitmekaar begin val. Ek sal die hooghartige houding van Juda en Jerusalem net so laat verdwyn soos met die lap gebeur.

10. Hierdie slegte volk sal net so nutteloos word soos hierdie stuk lap. ’n Mens kan dit nie meer gebruik nie. Dit sal gebeur omdat hulle weier om na My te luister. Hulle is baie hardkoppig en doen net wat hulle wil. Hulle vereer en dien ander gode.