Die Boodskap

Jeremia 12:11-15 Die Boodskap (DB)

11. Hulle het die land soos ’n verlate woestyngebied gemaak. Dit is of die grond van smart uitroep oor die toestand waarin dit is. Die hele land is verlate, maar niemand gee juis daarvoor om nie.

12. Die vernietigende leërs van die vyand het oor die kaal heuwels van die woestyn gekom om die land te kom plunder. Die Here stuur ’n oorlog wat die hele land en sy mense, van hoek tot kant, sal tref. Niemand sal wegkom nie!

13. Die volk het koring gesaai, maar daar sal net dorings wees om te oes. Van al hulle harde werk sal daar niks kom nie. Wanneer hulle die oes bymekaar begin maak, sal hulle verleë staan. Die oes sal ’n mislukking wees omdat Ek, die Here, vir hulle kwaad is.”

14. Die Here het gesê: “Die buurvolke is sleg. Hulle is gulsig en probeer die land wat Ek vir my volk Israel gegee het, in die hande kry. Ek sal sorg dat ander volke hierdie buurvolke uit hulle lande wegvat. Maar Juda sal Ek uit hulle mag red.

15. As Ek al hierdie volke uit hulle lande laat wegvat het, sal Ek hulle weer jammer kry. Ek sal elke volk na sy eie land toe laat terugkom waar al die goed is wat hulle besit.