Die Boodskap

Hebreërs 7:4-18 Die Boodskap (DB)

4. Kyk net hoe belangrik was Melgisedek regtig: Abraham, die groot voorvader van God se volk, het aan hom ’n tiende gegee van wat hy in die oorlog gewen het.

5. Dit is wel so dat die wet sê dat net nakomelinge van Levi priesters mag word. Die volk moes aan hulle ’n tiende gee van wat hulle gehad het, al was die Leviete ook maar net deel van dieselfde volk as hulle.

6. Maar Melgisedek was glad nie deel van die Leviete nie. Juis vir hom het Abraham ’n tiende gegee en hy het Abraham geseën, en onthou, God het Abraham alles beloof.

7. Een ding is seker: die belangriker persoon seën die onbelangriker persoon.

8. Boonop is die Leviete sterflik en kan hulle net die tiendes insamel tot hulle doodgaan, maar van Melgisedek word gesê dat hy nie dood is nie, maar leef.

9. Ons kan dit ook so stel: Levi, wat van God se volk die tiendes insamel, moes self deur sy vader Abraham aan Melgisedek sy tiende betaal.

10. Immers, toe Abraham vir Melgisedek ’n tiende gegee het, was Levi eintlik nog in die liggaam van Abraham, sy voorvader. Daarom kan ons sê dat hy dit eintlik self gedoen het.

11. Daar is nog ’n ander vraag: Waarom moes daar nog ’n ander soort priester kom? Aäron, as Leviet, en sy nakomelinge was mos daar: Waarom is priesters soos Melgisedek ook nog nodig? Immers, die wet en alles is gegee met die Leviete wat dit organiseer. Wel, die Levitiese priesters met die wet en al kon nie doen wat hulle moes doen nie. Daarom was ’n priester wat soos Melgisedek is, ook nodig.

12. As daar dan ’n ander soort priester kom, is dit nodig dat die wette ook verander.

13-14. Immers, Jesus kom uit die stam van Juda. Die ou wet (van Moses) sê mos dat iemand uit daardie stam nie ’n priester mag word of daardie soort werk mag doen nie.

15. Hoe dinge verander het, word nog duideliker as ons besef dat Jesus ’n priester is op dieselfde manier as wat Melgisedek dit was.

16. Wat beteken dit? Dit beteken dat as jy vra hoekom Jesus ’n priester is, jy nie vra uit watter mense Hy afstam en volgens watter reëls dit bepaal word nie. Jesus leef immers van altyd af en sal vir altyd leef. Wie Hy is en wat Hy mag wees, word nie afgelei uit wie sy menslike pa of ma is nie.

17. Want die Skrif sê self:“U sal vir altyd ’n priester wees net soos Melgisedek een was.”

18. Die ou reëls van Aäron-hulle werk nie meer nie, omdat dit nie regtig mense kon help soos dit moes nie.