Die Boodskap

Galasiërs 3:4-15 Die Boodskap (DB)

4. Was alles wat julle moes deurmaak ter wille van julle geloof dan heeltemal verniet? Dit kan mos nie waar wees nie!

5. God wat julle met sy Gees vervul het en wat groot wonders onder julle doen, doen nie hierdie dinge omdat julle die wet so streng gehoorsaam nie. Of hoe? Nee, Hy doen hierdie dinge onder julle omdat julle die evangelie glo.

6. Dink aan Abraham. Hy het in God geglo. Daarom was sy verhouding met Hom reg.

7. Weet julle, ons almal wat in God glo, is ook Abraham se kinders.

8. Die Bybelskrywers het lankal geweet dat God mense uit ander volke wat in Hom glo, van hulle sondes sou vryspreek. Abraham het ook hierdie goeie nuus gehoor. Daar is vir hom gesê: “Jou geloof sal nog maak dat al die volke op aarde eendag God se seën beleef.”

9. Weet julle, ons almal wat glo, val onder die gelukkiges wat nou deel het in die seëninge wat God aan Abraham gegee het. Dit net omdat hierdie een man bereid was om God op sy woord te neem.

10. Almal wat probeer om self by God uit te kom deur te doen wat die wet sê, staan onder God se vloek, want daar staan in die Bybel geskryf: “God vervloek elkeen wat nie tot in die fynste besonderhede alles doen wat in die wet opgeskryf is nie.”

11. Hierdie uitspraak wys vir ons dat niemand hulle saak met God self kan regmaak deur bloot net te doen wat die wet sê nie. Die Bybel sê immers: “Elkeen wie se verhouding met God reg is omdat hulle in Hom glo, sal lewe!”

12. Die wet het niks met geloof te make nie, maar met dit wat ’n mens doen. Dit is presies soos daar in die Bybel staan: “Elkeen wat alles doen wat die wet sê, sal daardeur lewe.” Gelukkig hoef ons nie meer alles self te probeer doen nie.

13. Christus het ons daarvan kom vrymaak. Hy het God se vloek wat rus op almal wat nie stiptelik doen wat die wet vra nie, op sy eie skouers geneem. Dit het aan die kruis gebeur. Daar het Christus in ons plek ’n vervloekte geword. Die Bybel sê mos: “God vervloek elkeen wat aan ’n houtpaal hang.”

14. Maar die goeie nuus is dat Christus Jesus se dood vir mense uit ander volke die kans bied om nou ook deel te hê aan die seëninge wat God vroeër oor Abraham uitgestort het. Maar dis nie al nie. Ons wat in Christus glo, het ook die Heilige Gees ontvang, presies net soos God ons belowe het.

15. My broers en susters, kom ek verduidelik gou met ’n alledaagse voorbeeld wat ek bedoel. Kom ons neem ’n kontrak of ’n ooreenkoms tussen twee mense. Julle weet mos dat as iemand ’n ooreenkoms opgestel het en dit word aanvaar deur al die partye wat daarby betrokke is, niemand dit daarna ongeldig kan verklaar of nog iets kan byvoeg nie. Kom ons pas hierdie voorbeeld nou toe op Abraham.