Die Boodskap

Galasiërs 3:1-9 Die Boodskap (DB)

1. Dit lyk my julle klomp Galasiërs het intussen die kluts heeltemal kwytgeraak. Ek begin my afvra of iemand julle nie dalk getoor het nie. Vroeër is die goeie nuus so duidelik aan julle verkondig dat julle Jesus Christus met julle eie oë aan die kruis kon sien hang. Wat het intussen skeefgeloop?

2. Sê my, hoe het julle deel gekry in die krag van die Heilige Gees? Was dit deur te doen wat die wet sê? Of deur die goeie nuus te glo? Ja, natuurlik: deur te glo!

3. Julle is regtig die kluts kwyt. Julle het vroeër reg begin: in die krag van die Heilige Gees. En nou? Nou eindig julle in julle eie krag.

4. Was alles wat julle moes deurmaak ter wille van julle geloof dan heeltemal verniet? Dit kan mos nie waar wees nie!

5. God wat julle met sy Gees vervul het en wat groot wonders onder julle doen, doen nie hierdie dinge omdat julle die wet so streng gehoorsaam nie. Of hoe? Nee, Hy doen hierdie dinge onder julle omdat julle die evangelie glo.

6. Dink aan Abraham. Hy het in God geglo. Daarom was sy verhouding met Hom reg.

7. Weet julle, ons almal wat in God glo, is ook Abraham se kinders.

8. Die Bybelskrywers het lankal geweet dat God mense uit ander volke wat in Hom glo, van hulle sondes sou vryspreek. Abraham het ook hierdie goeie nuus gehoor. Daar is vir hom gesê: “Jou geloof sal nog maak dat al die volke op aarde eendag God se seën beleef.”

9. Weet julle, ons almal wat glo, val onder die gelukkiges wat nou deel het in die seëninge wat God aan Abraham gegee het. Dit net omdat hierdie een man bereid was om God op sy woord te neem.