Die Boodskap

Filemon 1:6-20 Die Boodskap (DB)

6. Ek bid dat jou verhouding met my as jou broer in die geloof jou nog meer sal laat besef watter goeie dinge God aan ons geskenk het. Dit is ons deel omdat ons in Christus glo.

7. My liewe vriend, jou liefde vir ander Christene is vir my ’n riem onder die hart. Dit bring groot vreugde en troos vir my. Jy het al so baie beteken vir mense wat God dien.

8. Filemon, ons albei glo in Christus. Daarom sou ek jou kon beveel om te doen wat ek jou nou wil vra.

9. Tog verkies ek om eerder by jou te pleit om na my versoek te luister omdat ons albei die Here liefhet. Ek, Paulus, doen dit as ’n ouer persoon wat jou respek waardig is, en ook as iemand wat boonop in die tronk is ter wille van Christus Jesus.

10. My versoek gaan oor Onesimus, my kind in die geloof. Hier in die tronk het ek sy pa in die Here geword toe hy tot bekering gekom het.

11. Vroeër kon jy nie veel met hom uitrig nie, maar nou het alles verander. Van nou af gaan hy sommer baie vir my en jou beteken.

12. Daarom stuur ek hom na jou toe terug. Dit voel vir my of ’n deel van my hart uitgeruk is en saam met hom teruggaan.

13. Ek sou Onesimus bitter graag hier by my wou hou. As hy hier gebly het, kon hy my in jou plek bygestaan het. Want, soos jy weet, gaan my sendingwerk voort selfs terwyl ek ter wille van die evangelie in die tronk is.

14. Maar ek wou hom nie sonder jou toestemming hier hou nie. As ek Onesimus hier gehou het, sou jy verplig gewees het om dit so te aanvaar, maar dan sou ek nie reg opgetree het nie. Jy moet self daaroor besluit.

15. Dit is eintlik goed dat jy Onesimus so ’n rukkie lank verloor het. Nou kry jy hom vir altyd terug. En gelukkig ook op ’n heeltemal ander manier as wat jy gedink het.

16. Nie meer as ’n slaaf nie. Nee, hy is nou baie meer as dit. Jy kry Onesimus nou terug as jou broer in die Here; as iemand vir wie jy baie lief moet wees. Onesimus was ’n wonderlike broer vir my terwyl hy saam met my in die tronk was; hoeveel te meer sal hy dit nie vir jou wees nie. Jy kry nou ’n splinternuwe mens en ’n broer in die Here terug.

17. Filemon, as jy my as jou vriend en medestryder in die evangelie beskou, moet jy Onesimus ook as jou vriend beskou. Ontvang hom presies net soos jy my sou ontvang.

18. As hy vroeër iets daar by jou gevat het, of as hy jou nog enige geld skuld, moet jy dit maar op my rekening sit.

19. Daarom skryf ek, Paulus, hier groot en duidelik: “EK SAL ALLES BETAAL.”Terloops, voordat jy rekenings begin uitskryf, ek hoef jou seker nie te herinner aan wat jy my nog alles skuld nie, of hoe? Jy is jou ganse nuwe lewe as gelowige aan my verskuldig.

20. My liewe broer in die Here, bewys my tog hierdie groot guns. Neem Onesimus met oop arms terug. Ek vra dit nie ter wille van myself nie, maar ter wille van die saak van die Here. As jy dit doen, sal my hart oorloop van vreugde as jou broer in Christus.