Die Boodskap

Deuteronomium 24:8-14 Die Boodskap (DB)

8. “Wees op die uitkyk vir velsiektes wat dalk onder mense voorkom. Party kan hoogs aansteeklik wees. Doen wat die mense wat in die huis van die Here werk jou aansê om te doen. Doen wat hulle jou beveel, want ek het vir hulle gesê wat om te doen.

9. Onthou wat die Here aan Mirjam gedoen het toe julle uit Egipte weggetrek het.

10. “As iemand iets van jou leen, mag jy nie in sy huis ingaan en iets vat wat jy in ruil vir jouself hou nie.

11. Staan buitekant sy huis. Hy sal wel iets vir jou bring wat jy kan hou as waarborg dat hy sy skuld sal betaal.

12. Dalk gebeur dit dat jou buurman arm is, en al wat hy vir jou kan gee, is die klere aan sy lyf. Dan mag jy nie sy klere oornag hou nie.

13. Gaan gee die klere terug wanneer die son sak, want hy slaap in sy klere. Dis al wat hy het om hom warm te maak. Hy sal jou voorspoed toewens as jy sy klere teruggee. En die Here sal ook sien wat jy doen en dit sal goed wees in sy oë.

14. “Moenie iemand wat elke dag teen betaling werk, sleg behandel nie. Dit maak nie saak of hy ’n mede-Israeliet is of iemand wat aan ’n ander volk behoort nie.