Die Boodskap

Deuteronomium 24:2-9 Die Boodskap (DB)

2. Dit kan dan gebeur dat sy weggaan en met ’n ander man trou.

3. Die tweede man kan dan ook van haar skei of hy kan dalk doodgaan.

4. Dan mag haar eerste man onder geen omstandighede weer met haar trou nie. Sy is nie meer rein nie. As hulle weer trou, sal dit iets afgrysliks vir die Here wees. Julle mag nie die land wat die Here vir julle as ’n geskenk gee, vuil maak deur sulke slegte dinge te doen nie.

5. “’n Man wat pas getroud is, mag nie opgeroep word om in die weermag te gaan veg nie. Hy mag ook nie enige ander werk doen wat hom van sy huis af wegneem nie. Jy moet hom toelaat om die eerste jaar by sy huis te bly. Hy en sy vrou moet aan hulle huwelik werk sodat hulle ’n deeglike grondslag vir ’n gelukkige huwelik kan lê.

6. “Iemand kan iets by jou leen en jy hou iets van hom om seker te maak dat hy die goed terugbring wat hy geleen het. Dan mag jy nie een van die klippe hou wat hy gebruik om sy mielies mee te maal nie. Jy mag nie die boonste óf die onderste maalsteen vat nie. As jy dit doen, gaan hy honger ly.

7. “Dalk gebeur dit dat iemand van die volk Israel een van sy eie mense roof. Hy behandel dan hierdie mens sleg en laat hom werk sonder om hom te betaal. Of hy verkoop hom aan iemand anders om as ’n huishulp sonder betaling te werk. So iemand moet jy summier doodmaak. Jy moet slegte dinge uit jou midde uitroei.

8. “Wees op die uitkyk vir velsiektes wat dalk onder mense voorkom. Party kan hoogs aansteeklik wees. Doen wat die mense wat in die huis van die Here werk jou aansê om te doen. Doen wat hulle jou beveel, want ek het vir hulle gesê wat om te doen.

9. Onthou wat die Here aan Mirjam gedoen het toe julle uit Egipte weggetrek het.