Die Boodskap

Deuteronomium 23:5-18 Die Boodskap (DB)

5. Maar die Here jou God het Hom nie aan Bileam gesteur nie. Trouens, die Here het Bileam se vloeke in voorspoed vir jou verander. Hy het dit gedoen omdat Hy jou baie liefhet.

6. Jy mag nooit die Ammoniete en Moabiete op enige manier help of ondersteun nie. Jy mag hulle nie vrede of voorspoed toewens nie. Moenie hulle ooit goed behandel nie.

7. “Maar die Edomiete en die Egiptenaars mag jy nie sleg behandel nie. Die Edomiete is jou eie mense en die Egiptenaars het vir jou gesorg terwyl jy tussen hulle gebly het.

8. Die agterkleinkinders van Egiptenaars wat tussen julle bly, mag wel deel van die gemeente van die Here word.”

9. “As jy uittrek om teen jou vyande te gaan veg, moet jy oppas sodat jy nie verkeerde dinge doen nie.

10. “As daar ’n soldaat onder julle is wat in die nag ’n saadstorting gehad het en daarom onrein is, moet hy nie in die kamp saam met die ander soldate bly nie. Hy moet heeldag buitekant die kamp gaan bly.

11. Daardie aand moet hy hom dan goed was. Na die son gesak het, mag hy weer in die kamp kom.

12. “Merk ’n area buite die kamp af waar jy ’n toilet oprig.

13. Elke soldaat moet ’n graaf by sy toerusting hê. Waar hy dan toilet toe gaan, moet hy ’n gat grawe. As hy klaar is, moet hy alles toekrap.

14. Jy moet die kamp beskou as ’n plek wat aan die Here behoort en in sy diens staan. Daar mag niks vuils in jou kamp wees nie, want die Here jou God is saam met jou in jou kamp. Hy beskerm jou en verslaan jou vyande vir jou. Daarom mag jy nie toelaat dat daar iets afskuweliks of slegs onder die soldate is nie. Anders sal die Here weggaan en jou nie meer help nie.

15. “As slawe wegloop van hulle eienaar af omdat hulle sleg behandel word, en hulle kom skuil by jou, moet jy hulle nie teruggee aan hulle eienaar nie.

16. Laat hulle eerder by jou bly in een van die stede wat hulle kies om in te bly. Jy mag nie hierdie slawe sleg behandel nie.

17. “Dit mag nooit gebeur dat enige man of vrou onder die Israeliete by die huis van die Here hulle liggaam aanbied om met ander mense seks te hê nie.

18. Jy mag ook nie enige geld na die tempel toe bring wat ’n man of vrou verdien het deur by iemand anders te slaap nie. Sulke geld is walglik vir die Here. Hy verdra nie sulke mans en vroue nie.