Die Boodskap

Deuteronomium 20:3-10 Die Boodskap (DB)

3. Hy moet sê: ‘Luister na my, Israeliete! Julle staan op die punt om teen ’n vyand te gaan veg. Moenie bang wees nie. Moenie paniekbevange rondkyk wie julle sal help nie. Moenie vir julle vyand skrik nie.

4. Die Here julle God gaan saam met julle! Hy is tussen julle. Hy sal vir julle teen julle vyande baklei. Hy sal vir julle die oorwinning gee.’

5. “Hierna moet die offisiere van die soldate ook met die soldate praat. Hulle moet sê: ‘Is daar iemand onder julle wat so pas ’n nuwe huis gebou het, maar nog nie eens kon intrek voor hy opgeroep is om teen die vyand te kom veg nie? As daar so iemand is, moet hy huis toe gaan. Dalk word hy in die geveg doodgemaak, en dan gaan bly vreemde mense in die huis waaraan hy so hard gewerk het.

6. Is daar iemand onder julle wat pas ’n wingerd geplant het, maar nog nie eens van die vrugte van die wingerd kon eet nie? As daar so iemand is, moet hy huis toe gaan. Miskien word hy in die oorlog doodgemaak en dan eet iemand anders die druiwe van sy nuwe wingerd.

7. Is daar iemand onder julle wat nou net verloof geraak het? As daar so iemand is, moet hy huis toe gaan en gaan trou. Dalk word hy in die geveg doodgemaak en dan trou iemand anders op die ou end met sy verloofde.’

8. Dan moet die offisiere ook vra: ‘Is daar iemand onder julle wat bang is? As daar so iemand is, moet hy huis toe gaan. Anders steek hy nou-nou die ander soldate aan sodat daar ’n klomp bangbroeke is wat aan die oorlog moet deelneem.’

9. As die offisiere klaar met die soldate gepraat het, moet hulle die leiers van die verskillende gevegseenhede se name aankondig.”

10. “As jy oorlog teen ’n stad maak, en jy trek teen hom op, bied eers vir die mense van die stad vrede aan. Sê vir hulle onder watter voorwaardes jy hulle stad sal spaar.