Die Boodskap

Deuteronomium 10:15-20 Die Boodskap (DB)

15. En tog het die Here net julle voorvaders liefgehad. Van al die volke op aarde het die Here net vir hulle gekies omdat Hy vir hulle lief was. Tot vandag toe is julle steeds die Here se eiendom.

16. Gee julle daarom heeltemal aan die Here oor. Moenie meer soos in die verlede teen die Here in opstand kom nie.

17. “Die Here jou God is sterker as enige ander god en Hy is magtiger as alle mense op die aarde. Hierdie groot, magtige en sterk God kies nie kant in hofsake nie en word nooit omgekoop nie.

18. Hy sorg dat weeskinders en weduwees regverdig behandel word. Hy het mense van ander volke wat tussen julle bly, lief en Hy gee vir hulle kos en klere.

19. Ook jy moet sulke mense liefhê, want jy was self lank ’n vreemdeling in Egipte.

20. “Jy moet net die Here jou God aanbid. Jy moet Hom altyd dien, altyd aan Hom vashou en net in sy Naam beloftes maak.