Die Boodskap

2 Samuel 7:16-24 Die Boodskap (DB)

16. Een van jou eie familie sal altyd daar wees en altyd regeer. Daar sal altyd een van jou eie mense op jou troon wees.’”

17. Natan het al hierdie woorde, alles wat die Here vir hom gesê het, presies net so vir Dawid gaan sê.

18. Koning Dawid het toe in die tent ingegaan en by die ark van die Here gaan sit. Hy het gebid: “Wie is ek, groot Here, en wie is my familie dat U my tot hier gebring het?

19. Asof U nie al genoeg gedoen het nie, groot Here, het U toe ook nog aan my familie wat lank ná my kom, beloftes gemaak. Is dít wat U vir gewone mense soos ons wil sê, groot Here?

20. Wat kan iemand soos ek, Dawid, daaroor sê? U ken my tog goed, groot Here.

21. U het hierdie groot ding gedoen omdat U dit wóú doen en omdat U gesê het U gaan dit doen. En nou het U dit vir mý ook vertel!

22. U is regtig groot, Here my God. Daar is niemand soos U nie, en behalwe U is daar geen god nie. Dit weet ons vir seker.

23. “En watter ander mense is so gelukkig soos die Israeliete, u volk? Hulle is die enigste mense op aarde wat ’n God het wat hulle uit die moeilikheid gehelp het en hulle sy eie volk gemaak het. U het vir Uself naam gemaak toe U groot wonderwerke gedoen het en ander nasies en hulle gode uit hierdie land uitgejaag het om plek te maak vir u mense wat U uit Egipte vrygemaak het.

24. U het die Israeliete u eie volk gemaak vir altyd. En Here, U is hulle God.