Die Boodskap

2 Samuel 20:11-16 Die Boodskap (DB)

11. Een van Joab se manne het by Amasa gaan staan en geskree: “As julle van Joab hou en vir Dawid is, volg Joab!”

12. Amasa het in die middel van die pad in ’n plas bloed gelê en krul van die pyn. Toe die man sien al die manskappe gaan by Amasa staan, het hy hom uit die pad gesleep die veld in. Toe hy sien almal gaan staan nog om te kyk, het hy hom met klere toegegooi.

13. Daarna het al die manskappe agter Joab aangegaan om vir Seba, seun van Bikri, te gaan soek.

14. Joab het by al die stamme van Israel gesoek tot hy Seba in Abel (dis nou Bet-Maäka) gekry het. Al die Beriete het bymekaargekom en ook saam met Joab gegaan.

15. Hulle het Seba in Abel-Bet-Maäka vasgekeer. Hulle het ’n skuins wal teen die voormuur van die stad gepak en so kon al die soldate by die groot muur om die stad kom. Hulle het teen die muur gestamp om dit te laat val.

16. ’n Slim vrou het bo van die muur af geskree: “Haai, hoor hierso! Sê asseblief vir Joab hy moet hiernatoe kom! Ek wil met hom praat!”