Die Boodskap

2 Samuel 18:28-33 Die Boodskap (DB)

28. Hy was nog ’n ent weg toe skree hy al vir die koning: “Als is reg!” Toe hy met sy gesig teen die grond voor die koning buig, sê hy: “U Majesteit, ons moet die Here, u God, prys, want Hy het die mense wat teen u opgestaan het, op hulle plek gesit.”

29. “Wat van Absalom? Is my kind veilig?” vra die koning.“Ek het ’n groot klomp mense bymekaar gesien net toe u generaal, Joab, vir my gesê het om te hardloop. Maar ek weet nie wat het daar gebeur nie,” sê Agimaäs.

30. “Gaan wag daar,” sê die koning.Hy het eenkant gaan staan.

31. Net toe kom die man uit Afrika daar aan. Hy sê: “U Majesteit, ek het goeie nuus! Die Here het vandag almal reggesien wat teen u opgestaan het.”

32. “Wat van Absalom? Is my kind veilig?” vra die koning.Daarop antwoord die man: “Ek hoop dieselfde sal gebeur met U Majesteit se vyande en met almal wat slegte planne teen u het, as wat met daardie jongman gebeur het.”

33. Die koning was platgeslaan. Hy het na ’n kamer bo-op die stad se muur gegaan en in trane uitgebars. Hy het heen en weer geloop en gesê: “My seun, my Absalom, my seun, my seun, my Absalom. Ag, as ek maar dood was in jou plek, Absalom, my seun, my seun.”