Die Boodskap

2 Samuel 14:20-29 Die Boodskap (DB)

20. Joab het dit gedoen sodat u ’n bietjie uit ’n ander hoek na die saak kan kyk. Maar, U Majesteit, u is so slim soos ’n engel uit die hemel; u weet alles wat in die land gebeur.”

21. Die koning het daarna vir Joab gesê: “Ja goed, ek sal doen wat jy wil hê. Laat die jongman Absalom maar terugkom.”

22. Joab het op sy knieë gaan staan en met sy gesig teen die grond gebuig. Hy het vir die koning baie dankie gesê. Hy het verder gesê: “U Majesteit, ek weet nou dat u vir my omgee, want u doen wat ek gevra het.”

23. Joab het daar opgestaan en Gesur toe gegaan. Hy het vir Absalom teruggebring Jerusalem toe.

24. Maar die koning het gesê: “Hy moet reguit na sy huis toe gaan. Ek wil hom nie sien nie.”Absalom is toe reguit na sy huis toe sonder om die koning te sien.

25. Daar was in die hele land nie nog so ’n mooi mens soos Absalom nie. Almal het hom bewonder. Hy was ’n volmaakte man, van kop tot tone.

26. Hy het ’n welige bos hare gehad. Een keer ’n jaar het hy sy hare afgeskeer omdat dit te lank geword het. Die afgeskeerde hare het omtrent twee kilogram geweeg volgens die gewigte van die staat.

27. Absalom het drie seuns en ’n dogter gehad. Sy dogter se naam was Tamar. Sy was ’n beeldskone vrou.

28. Absalom het vir twee jaar in Jerusalem gebly sonder dat hy ooit toegelaat is om by die koning te kom.

29. Hy laat weet toe vir Joab hy wil hom sien. Hy wou hê Joab moes hom na die koning toe vat. Maar Joab wou nie na sy huis toe kom nie. Absalom het weer vir hom ’n boodskap gestuur, maar hy het nie gekom nie.