Die Boodskap

2 Petrus 3:3-15 Die Boodskap (DB)

3. Onthou, gedurende die laaste dae hier op aarde sal daar spotters op die toneel verskyn. Hulle sal leef net soos hulle wil.

4. Hierdie spul sal ook spottende dinge sê soos: “En wanneer gaan die wederkoms nogal plaasvind? Ons voorvaders is al dood en begrawe. Hulle het hulle dood gewag op die wederkoms, maar net mooi niks het nog verander nie. Alles gaan steeds op dieselfde ou trant aan, net soos dit van die begin af was.”

5. Die mense wat sulke goed sê, vergeet ewe gerieflik ’n paar belangrike dinge oor God. Hulle vergeet dat God lank terug die hemel en die aarde uit water gemaak het. Hy het dit gedoen deur net ’n woord te sê.

6. En hulle vergeet ook hoe God daarna die wêreld deur ’n reuse-oorstroming vernietig het.

7. Dis dieselfde hemel en aarde waarin ons nou elke dag leef en wat gereed gehou word vir die groot vuur. God moet net ’n woord sê, dan breek die oordeelsdag aan wanneer Hy al die goddelose mense eens en vir altyd sal skuldig bevind en vernietig.

8. My liewe vriende, moenie dink dat God van ons mensgemaakte kalenders afhanklik is nie. Dit is glad nie so nie. Vir God is een dag net so goed soos 1 000 jaar, en 1 000 jaar net soos een dag.

9. Daarom is Hy glad nie laat vir sy afspraak met die wêreld nie, al dink party spotters so. Die Here stel nie sy belofte uit nie. Hy sal sy woord hou. Op die oomblik is God net geduldig met julle almal. Hy wil nie hê dat sommige mense verlore moet gaan nie. Hy wil hê dat almal hulle moet bekeer.

10. Niemand weet wanneer die Here na ons toe terugkom nie. Dit sal onverwags wees, net so onverwags soos ’n dief wat iewers in ’n huis inbreek. Op daardie dag sal die hemelruim bokant julle inmekaarstort, die sterre en die planete sal tot ’n hoop as verbrand, en die aarde met alles daarop sal vergaan.

11. Julle weet dat al die dinge waarvan ek praat enige oomblik kan plaasvind. Daarom moet julle al hoe meer doen wat God vra. Gryp elke kans aan! Wys dat julle net aan Hom behoort.

12. Sien uit na die dag waarop die Here terugkom. Leef so dat God die datum van sy terugkeer sal vervroeg. Leef daardie groot dag nader! Op daardie dag sal die hemelruim in vlamme verbrand en al die sterre en planete in ’n oomblik wegsmelt.

13. Ons hou met alles in ons vas aan die belofte dat ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde op pad is, presies net soos God belowe het. Daar sal God se wil seëvier. Wat ’n wonderlike vooruitsig!

14. My liewe broers en susters, omdat julle uitsien na alles wat in God se nuwe wêreld op julle wag, moet julle julle bes doen om so te leef dat julle God se hart altyd bly maak. Daar moenie eens ’n vuil kolletjie sonde in julle lewens te sien wees nie. Sorg dat julle eendag in vrede voor Hom kan staan, sonder enige skuldige gewetens.

15. Die Here is baie geduldig met ons. Gelukkig! Hy gee ons nog ’n kans om ons lewens behoorlik reg te kry. Kom ons gryp dit met albei hande aan. Dit is presies wat Paulus, daardie broer van ons vir wie ons almal so lief is, ook vir julle geskryf het.