Die Boodskap

2 Kronieke 18:10-25 Die Boodskap (DB)

10. Een van die profete was Sedekia, Kenaäna se seun. Hy het vir hom ysterhorings gemaak. “Met sulke horings,” het hy gesê, “sal u die Arameërs doodmaak.”

11. Al die profete het saamgepraat en die konings aangemoedig om by Ramot in Gilead te gaan veg, “want,” het hulle gesê, “die Here sal u laat wen.”

12. Die boodskapper wat Miga moes gaan roep, het vir hom gesê: “Luister nou ’n bietjie na my. Al die profete het vir die koning ’n oorwinning voorspel. Ek hoop net jy sal dieselfde sê en vir die koning ’n goeie boodskap gee!”

13. Miga het hom geantwoord: “Ek sal net sê wat die Here vir my sê om te sê!”

14. Toe hy by die koning kom, sê Agab vir hom: “Miga, kan ons na Ramot in Gilead toe gaan om te gaan veg, of moet ons dit los?”“Gaan gerus,” het Miga geantwoord, “dit sal goed gaan en julle sal wen.”

15. Die koning het skerp reageer: “Hoeveel keer moet ek by jou aandring om niks anders vir my te sê as wat die Here vir jou sê nie?”

16. Toe antwoord Miga hom: “In ’n visioen het ek Israel op die berge sien ronddwaal, net soos skape sonder ’n skaapwagter. Toe hoor ek die Here sê: ‘Hulle leier is dood, laat hulle in vrede huis toe gaan.’”

17. Israel se koning herinner toe vir Josafat: “Ek het jou mos gesê hy kan niks goeds vir my voorspel nie. Dis net altyd slegte nuus!”

18. Maar Miga het voortgegaan en die res van die visioen wat die Here hom laat sien het, vir hulle beskryf: “Ek het die Here op sy troon sien sit. Al die hemelwesens het weerskante voor Hom gestaan.

19. “Die Here sê toe: ‘Wie van julle sal Israel se koning, Agab, kan ompraat om Ramot in Gilead te gaan aanval, sodat hy daar kan doodgaan?’

20. “Toe kom staan daar ’n gees voor die Here en sê: ‘Ek sal hom kan ompraat.’“‘Maar hoe?’ het die Here hom gevra.

21. “Hy het geantwoord: ‘Ek sal sorg dat al sy profete vir hom lieg.’ “‘Jy kan dit maar gaan doen, want jy sal dit regkry!’ het die Here gesê.

22. “Verstaan nou mooi, geagte koning. Die Here het toegelaat dat die profete vir u lieg, want Hy beplan ’n groot ramp vir u.”

23. Toe hy dit hoor, het Sedekia op Miga afgestorm en hom in die gesig geslaan. “Hoe is die Here se Gees nogal van my af weg om met jou te gaan praat?” wou hy weet.

24. Miga het gesê: “Jy sal dit sommer gou uitvind, wanneer jy in ’n kamer moet invlug om weg te kruip!”

25. Die koning het beveel: “Vang Miga en vat hom vir Amon, die stadsbevelvoerder, en vir my seun Joas.