Die Boodskap

1 Korintiërs 12:22-29 Die Boodskap (DB)

22. Om die waarheid te sê, daar is dele van die liggaam waaraan ’n mens nie eens baie dink nie, maar waarsonder die liggaam glad nie kan klaarkom nie.

23. Daar is ander dele van die liggaam wat ons nie wil hê mense moet sien nie. Daarom trek ons klere aan. So wys ons byvoorbeeld dat ons spesiaal vir hierdie liggaamsdele omgee.

24. Aan ander dele van die liggaam waaroor ons nie skaam voel nie, gee ons ook nie so baie aandag nie. God het die liggaam juis so aanmekaargesit. Hy sorg daarvoor dat die dele wat dit nodig het, juis met meer respek behandel word.

25. Daarom kan liggaamsdele nie onder mekaar “stry” nie. Hulle moet eerder respek hê vir mekaar en vir mekaar omgee.

26. As een deel van die liggaam seerkry, voel die hele liggaam die pyn, en as een deel van die liggaam geprys word, voel die hele liggaam bly.

27. Kom ons kyk wat ons hieruit oor julle as gemeente kan leer. Julle as Christene is saam die liggaam van Christus. Elkeen van julle is ’n lid van hierdie liggaam.

28. Een lid van die gemeente is iemand vir wie die Here spesiaal gestuur het om sy boodskap te preek; ’n ander een moet in die gemeente self vertel wat die Here van die gemeente wil hê; dan is daar gemeentelede wat die ander moet touwys maak oor alles wat die Here ons geleer het; dan is daar mense wat spesiale kragtige dinge doen en ander vir wie die Here die krag gee om mense gesond te maak. Die Here het ook gesorg dat daar mense in die gemeente is wat ander kan help as hulle hulp nodig het. Party het weer die vermoë om te sorg dat die gemeentebedrywighede vlot verloop. Dan is daar ook mense in die gemeente wat “spesiale tale” praat. In die gemeente kan almal mos nie presies dieselfde ding doen nie.

29. Almal kan mos nie preek of die ander gemeentelede leer nie. Wie is dan oor om te luister?