Afrikaans 1983

Lukas 20:20-31 Afrikaans 1983 (AFR83)

20. Hulle het hulle kans afgewag. Toe stuur hulle geheime agente wat hulle as opreg voorgedoen het, om Jesus op een of ander uitspraak te probeer vastrek sodat hulle Hom aan die owerheidsgesag van die goewerneur kon uitlewer.

21. Hulle vra Hom toe: “Meneer, ons weet dat u in u prediking en onderrig regsinnig is. U let nie op die aansien van persone nie. U is getrou aan die waarheid, en so maak u die wil van God bekend.

22. Is dit reg dat ons aan die keiser belasting betaal, of is dit nie?”

23. Maar Jesus het deur hulle slimstreek gesien en vir hulle gesê:

24. “Wys vir My 'n muntstuk. Wie se kop en naam is daarop?”Hulle antwoord: “Die keiser s'n.”

25. Toe sê Hy vir hulle: “Nou ja, gee dan aan die keiser wat aan die keiser behoort, en aan God wat aan God behoort.”

26. Hulle kon dit nie regkry om Hom voor die volk vas te trek op iets wat Hy gesê het nie. En verwonderd oor sy antwoord, het hulle maar stilgebly.

27. 'n Aantal Sadduseërs — dit is die mense wat ontken dat daar 'n opstanding uit die dood is — kom toe nader en vra vir Jesus:

28. “Meneer, Moses het vir ons voorgeskryf: As iemand 'n getroude broer het wat kinderloos sterwe, moet hy met sy broer se weduwee trou en vir sy broer kinders verwek.

29. Nou was daar sewe broers. Die oudste het getrou en kinderloos gesterwe.

30. Ook die tweede

31. en die derde het met die weduwee getrou en kinderloos gesterwe, en so het dit met al sewe gegaan.