Afrikaans 1983

Lukas 20:14-28 Afrikaans 1983 (AFR83)

14. Maar toe die boere hom sien, het hulle onder mekaar geredeneer: ‘Dit is die erfgenaam dié. Kom ons slaan hom dood, dan is die erfenis ons s'n.’

15. Toe gooi hulle hom uit die wingerd uit en slaan hom dood. Wat sal die eienaar van die wingerd dan met hulle doen?

16. Hy sal kom en daardie boere om die lewe bring en die wingerd vir ander mense gee.”Dié wat dit gehoor het, sê toe: “Nee, dit moenie gebeur nie!”

17. Maar Jesus het hulle aangekyk en gesê: “Wat beteken hierdie Skrifwoord dan:“ ‘Die klip wat deur die bouers afgekeur is,juis hy het die belangrikste klip in die gebou geword’?

18. Elkeen wat op hierdie klip val, sal verpletter word;elkeen op wie hy val, sal hy vermorsel.”

19. Die skrifgeleerdes en die priesterhoofde het besef dat Jesus met hierdie gelykenis op hulle gesinspeel het. Daarom wou hulle Hom sommer daar en dan gevange neem, maar hulle was bang vir die volk.

20. Hulle het hulle kans afgewag. Toe stuur hulle geheime agente wat hulle as opreg voorgedoen het, om Jesus op een of ander uitspraak te probeer vastrek sodat hulle Hom aan die owerheidsgesag van die goewerneur kon uitlewer.

21. Hulle vra Hom toe: “Meneer, ons weet dat u in u prediking en onderrig regsinnig is. U let nie op die aansien van persone nie. U is getrou aan die waarheid, en so maak u die wil van God bekend.

22. Is dit reg dat ons aan die keiser belasting betaal, of is dit nie?”

23. Maar Jesus het deur hulle slimstreek gesien en vir hulle gesê:

24. “Wys vir My 'n muntstuk. Wie se kop en naam is daarop?”Hulle antwoord: “Die keiser s'n.”

25. Toe sê Hy vir hulle: “Nou ja, gee dan aan die keiser wat aan die keiser behoort, en aan God wat aan God behoort.”

26. Hulle kon dit nie regkry om Hom voor die volk vas te trek op iets wat Hy gesê het nie. En verwonderd oor sy antwoord, het hulle maar stilgebly.

27. 'n Aantal Sadduseërs — dit is die mense wat ontken dat daar 'n opstanding uit die dood is — kom toe nader en vra vir Jesus:

28. “Meneer, Moses het vir ons voorgeskryf: As iemand 'n getroude broer het wat kinderloos sterwe, moet hy met sy broer se weduwee trou en vir sy broer kinders verwek.