Afrikaans 1983

Lukas 12:21-29 Afrikaans 1983 (AFR83)

21. So gaan dit met hom wat vir homself skatte vergader en nie ryk is by God nie.”

22. Verder het Jesus vir sy dissipels gesê: “Daarom sê Ek vir julle: Moet julle nie bekommer oor julle lewe, oor wat julle moet eet nie, of oor julle liggaam, oor wat julle moet aantrek nie.

23. Die lewe is tog belangriker as kos en die liggaam as klere.

24. Kyk na die kraaie: hulle saai nie en oes nie; hulle het geen spens of skuur nie, maar God sorg vir hulle. Julle is tog baie meer werd as voëls.

25. Trouens, wie van julle kan deur hom te bekommer sy lewe met een uur verleng?

26. As julle nie eens so 'n klein dingetjie kan regkry nie, waarom bekommer julle julle oor die ander dinge?

27. “Kyk hoe groei die lelies: hulle swoeg nie en hulle maak nie klere nie, maar Ek sê vir julle: Selfs Salomo in al sy prag was nie geklee soos een van hulle nie.

28. As God die gras van die veld, wat vandag nog daar is en môre in die vuur gegooi word, só mooi maak, hoeveel te meer sal Hy julle versorg, julle kleingelowiges!

29. Julle moet julle ook nie gedurig afvra wat julle gaan eet of drink nie, en julle moenie besorg wees nie.