Afrikaans 1983

Hebreërs 6:11-20 Afrikaans 1983 (AFR83)

11. Dit is ons vurige wens dat elkeen van julle end-uit dieselfde ywer as vroeër aan die dag sal lê totdat die dinge waarop julle hoop, vervul is.

12. Julle moet dus nie traag word nie, maar die voorbeeld navolg van dié wat deur geloof en geduld deel gekry het aan die dinge wat God beloof het.

13. Toe God aan Abraham die belofte gemaak het, het Hy niemand groter as Hyself gehad by wie Hy dit met 'n eed kon bevestig nie. Daarom het Hy dit met 'n eed by Homself bevestig

14. en gesê: “Ek sal jou beslis ryklik seën en jou 'n baie groot nageslag gee.”

15. En so het Abraham dan, nadat hy geduldig gewag het, gekry wat aan hom beloof is.

16. Mense lê 'n eed af by iemand groter as hulleself. Vir hulle is dit die bevestiging van 'n saak, en dit sluit alle teëspraak uit.

17. En omdat God aan die erfgename van die belofte bo alle twyfel wou verseker dat sy besluit onveranderlik is, het Hy dit met 'n eed gewaarborg.

18. Die twee onveranderlike dinge, die belofte en die eed, waarborg dat God sy woord gestand sal doen, en is vir ons wat ons toevlug tot Hom geneem het, 'n kragtige aansporing om vas te hou aan die hoop op wat vir ons weggelê is.

19. Hierdie hoop besit ons as 'n veilige en onbeweeglike lewensanker, wat agter die voorhangsel vas is.

20. Daar het Jesus, ons Voorloper, ter wille van ons ingegaan, en Hy is vir ewig Hoëpriester volgens die orde van Melgisedek.