Afrikaans 1983

Hebreërs 12:10-23 Afrikaans 1983 (AFR83)

10. Ons vaders het ons wel 'n kort tydjie na hulle goeddunke getug, maar Hy tug ons tot ons beswil sodat ons in sy heiligheid mag deel.

11. Wanneer ons getug word, lyk die tug op daardie oomblik nie na iets om oor bly te wees nie, maar om oor te huil. Later lewer dit egter vir dié wat daardeur gevorm is, 'n goeie vrug: vrede omdat hulle gehoorsaam is aan die wil van God.

12. Versterk daarom die slap hande en die lam knieë

13. en loop die reguit pad. Dan sal wat lam is, nie uit lit raak nie, maar gesond word.

14. Beywer julle vir vrede met alle mense asook vir 'n heilige lewe, waarsonder niemand die Here sal sien nie.

15. Sorg dat niemand van die genade van God afvallig word nie. Sorg dat daar nie verbittering soos 'n wortel uitspruit, moeilikheid veroorsaak en baie besmet nie.

16. Sorg ook dat niemand sedeloos en goddeloos lewe nie, soos Esau wat vir een maaltyd sy eersgeboortereg verkoop het.

17. Julle weet dat hy verwerp is toe hy daarna die seën wou verkry. Daar was vir hom geen moontlikheid om die saak reg te stel nie, al het hy met trane daarna gesoek.

18. Julle het immers nie gekom by 'n tasbare berg met brandende vuur, donderwolke, duisternis, stormwind,

19. trompetgeskal en geklank van woorde nie. Hulle wat dit gehoor het, het gesmeek dat geen woord meer tot hulle gerig moes word nie.

20. Die bevel dat selfs 'n dier wat aan die berg raak, met klippe doodgegooi moet word, was vir hulle ondraaglik.

21. So angswekkend was die verskynsel dat Moses uitgeroep het: “Ek sidder van angs!”

22. Maar julle het wel gekom by Sionsberg en die stad van die lewende God, dit is die hemelse Jerusalem met sy miljoene engele, by die feestelike samekoms,

23. die vergadering van die eersgeborenes wie se name in die hemel opgeteken is. Julle het gekom by God wat Regter oor almal is, en by die geeste van dié wat vrygespreek en wat nou volmaak is,