Afrikaans 1983

Hebreërs 10:26-36 Afrikaans 1983 (AFR83)

26. Wanneer ons opsetlik bly sondig nadat ons die kennis van die waarheid ontvang het, is daar geen offer meer wat ons sondes kan wegneem nie.

27. Daar bly alleen 'n verskriklike verwagting oor van oordeel en 'n gloeiende vuur wat die teenstanders van God sal verteer.

28. As iemand die wet van Moses oortree, en twee of drie getuies bevestig dit, word hy nie begenadig nie, hy word doodgemaak.

29. Hoeveel swaarder straf, dink julle, sal hy kry wat die Seun van God verag het, die bloed van die verbond waardeur hy geheilig is, geminag het en die Gees van genade beledig het?

30. Ons weet tog wie Hy is wat gesê het:“Dit is mý reg om te straf;Ek sal vergeld;”en verder:“Die Here sal oor sy volk oordeel.”

31. Dit is verskriklik om in die hande van die lewende God te val.

32. Dink terug aan vroeër dae toe God julle tot die lig gebring het, hoe julle in die stryd staande gebly het toe julle baie moes ly.

33. Deels is julle deur beledigings en vervolging openlik tot bespotting gemaak en deels het julle gely omdat julle julle vereenselwig het met ander wat hierdie dinge oorgekom het.

34. Julle het met die gevangenes meegevoel gehad, en toe op julle besittings beslag gelê is, het julle dit met blymoedigheid aanvaar omdat julle geweet het dat julle 'n besitting het wat beter en blywend is.

35. Julle geloofsvertroue moet julle dus nie prysgee nie: dit hou groot beloning in.

36. Volharding is wat julle nodig het om die wil van God te doen en te ontvang wat Hy beloof het.